Paarliet bekroon as Wes-Kaap Plaaswerker van die Jaar
2007-11-15
David Joshua
’n JUNIOR plaasbestuurder van die Paarl, Jeffrey Skermand van die plaas La Ferme Derik, het stof geskop in sewe landboustreke se finaliste tydens die toekennings vir Wes-Kaapse Plaaswerker van die Jaar. “Ek is in my noppies met hierdie toekenning en sę dankie aan my Skepper en sommer aan almal, want my toekenning is die resultaat van ’n spanpoging. “Ek het lief geword vir my werk in die landbou. ’n Mens kán as jy wil en gefokus bly om te presteer,” sę Skermand beskeie. Volgens plaaseienaar Eurica Scholtz is dié pa van twee dogters ’n staatmaker op La Ferme Derik. “Op enige tydstip van die toesighouding met druiwe-oesbeheer het hy 14 mense onder oog en voor paktyd het hy omtrent 60 mense op verskillende stasies. “Tydens verpakking werk hy op sy eie in die wingerd, want vroeër tydens ’n kragonderbreking het hy self ’n pakstoor in die wingerd opgestel wat aan al die standaarde en vereistes moes voldoen.” Skermand vertel dat sy dag vroeg soggens reeds om halfvyf begin en maklik duur tot halfagt saans. Gedurende oestyd werk hulle maklik tot saans tienuur. “My dag begin met godsdiens en dan is dit vergadering hou om die werk uiteen te sit. “My span verstaan die tegniese aspek van oes, want sekere kultivars word vroeg gepluk. Die kwaliteit is soveel beter en hoe minder die trosse hanteer word, hoe hoër is die kwaliteit. Ek is trots op hulle,” sę hy. Skermand is in Simondium gebore en het by New Orleans Sekondęr skoolgegaan. Sy vrou Johanna is ook ’n toesighouer en sy kinders Bernadine (10) en Shermekia (4) gaan tans skool by Slot van die Paarl. Sy kursusse in tafeldruifverbouing het hy by Elsenburg Landboukollege voltooi. “Die oudste een stel baie belang in landbou en ek moedig haar aan om eendag in ’n landbou-rigting te studeer.” Scholtz is vol lof vir Skermand. “Jeffrey gaan nog eendag politiek toe met sy gladde mond, maar ek twyfel of ek hom sommer sal laat gaan. “Ek stap al ’n paadjie met Jeffrey en weens ons lang werksure saam, is ons vriende. Hy los almal se probleme op want hy lag altyd en gesels lekker saam,” sę sy. By die provinsiale kompetisie was naaswenner Johannes Jansen van die Overbergstreek sy grootste kompetisie. Moontlik sal die kompetisie later uitgebrei word tot nasionale vlak. “Jeffrey sal loshande wen, want sy groot geheim is dat hy ’n geliefde mens is met ’n mooi persoonlikheid. Hy kom met almal oor die weg.”
More
News
|