DIE eerste span van McCarthy Toyota Wellington Krieketklub het verlede Saterdag by die Pen Basson-veld ’n skitterende sege oor Young Peoples (Tiere) van die Paarl behaal.
Young Peoples het die loot gewen en die tuisspan eerste ingestuur om te gaan kolf.
Die Wellingtonners het by tye effens klei getrap teen die akkurate boulaanval van die Tiere, maar het deurgedruk om uiteindelik 144 aan te teken.
Christi Schreuder (50, 5x4 en 1x6) en Bronwill Williams (27, 3x4) het goeie bydraes met die kolf gemaak vir die tuisspan.
Charlton Daniels (4/44), Gercian Gabriels (2/13) en Lorenzo Jacobs (2/31) het vir Young Peoples met die bal uitgeblink.
Die Tiere het aanvanklik goed begin met die eerste paaltjie wat eers op 30 gekantel het.
Daarna het dinge begin skeefloop vir die besoekers met swak houe wat hulle belangrike paaltjies gekos het.
Ryan Groenewaldt het die deurslaggewende rol gespeel vir die Wellingtonners met uitstekende boulsyfers van vyf paaltjies vir 28 lopies.
Marquin Julies (23, 5 x4) het met die kolf uitgestaan vir die Tiere.
Young Peoples is in die 30ste beurt vir ’n droewige 98 lopies uitgeboul.
Young Peoples se tweede span het op Daljosafat meer sukses behaal nadat hulle Wellington II hul eerste nederlaag van die seisoen toegedien het.
Die besoekers het eerste gekolf en danksy goeie boulwerk deur die Tiere is hulle tot 172/8 beperk.
Young Peoples se beurt het rampspoedig begin en met hul telling op 49/5 het sake maar donker gelyk.
Die Tiere het vasgebyt en die druk baie goed verwerk om die wedstryd met drie paaltjies te wen.
* Young Peoples I speel Saterdag tuis teen Worcester United terwyl die tweede span weg teen Worcester speel.
Dié klub bied Saterdag vanaf 17:00 ’n biefstuk- en skyfiesverkope by die klubhuis aan.
Kaartjies is R35 en by lede beskikbaar.