BOLAND atlete het die afgelope seisoen uitsonderlike prestasies behaal nadat 13 provinsiale rekords en een nasionale rekord verbeter is.
Die beste vertoning hierdie jaar was dié van Louw Smit (oud-leerder van Hoërskool Paarl Gimnasium) wat tydens die SA Junior Kampioenskap in Pretoria die Bolandrekord verpletter het in die 110mH met ’n tyd van 13,73sek.
Hierdie tyd is ook onlangs deur Atletiek Suid-Afrika goedgekeur as nasionale rekord en is ook vanjaar een van die tien vinnigste tye in die wêreld.
Nóg ’n plaaslike atleet, Keenan Watson (oud-leerder van Hoër Jongenskool Paarl), het kop en skouers bo sy teenstanders uitgestaan nadat hy die Boland verspringrekord met ’n sprong van 7,85m gebreek het.
* ’n Ander uitstekende prestasie was gelewer deur Robert Oosthuizen van Maties en oudleerling van Malmesbury HS. Robert het met sy prestasie van 84,52m die Boland Senior spiesgooirekord gebreek.
Hierdie prestasie was ook goed genoeg vir die vyfde plek in die finaal van die 2007 IAAF Wêreld Senior Atletiekkampioenskap.