DIE Young Peoples Krieketklub het Saterdag by Daljosafat-stadion met Worcester United afgereken deur die besoekers voor etenstyd met agt paaltjies af te stof.
Worcester het eerste gaan kolf en uit die staanspoor gesukkel om ’n houvas op die Tiere se boulers te kry.
Young Peoples se naatboulers het met akkurate boulwerk die besoekers se kolflys vernietig en Worcester vir ’n skamele 62 lopies uitgeboul.
Gerscian Gabriels (4/22), Charlton Daniels (3/19) en Marshall Lategan (2/22) was die Tiere se uitblinkers met die bal.
’n Aggressiewe beurt deur die Tiere se Ian Gray (35, 6x4) het die tuisspan reeds in die 15de beurt die wenlopies sien aanteken.
Die Tiere se tweede span het egter op Worcester vasgeval nadat hulle met vier paaltjies verloor het.
Peoples het eerste gekolf en kon net 188 lopies aanteken.
Warren George (56, 9x4) het sy goeie vorm voortgesit terwyl Gershin Philander ’n vegtersbeurt (33, 2x4) gespeel het.
Worcester het die wenlopies in die 52ste beurt behaal.
Slegs Keenan Pick (2/29), Lindsay Davy (2/31) en Lee-John Julies (2/54) kon iets met die bal uitrig.
Peoples se derde span is steeds onoorwonne nadat hulle met skitterende spel die span van Touwsrivier by Daljosafat met 42 lopies geklop het.
Op 78/7 was Young Peoples diep in die moeilikheid, maar hardnekkige kolfwerk deur Jermaine Williams (50, 8x4) en Cedric Williams (25, 3x4 en 1x6) het die Tiere tot 195 lopies gebring.
Die besoekers is danksy goeie boulwerk deur Wayne Jacobs (4/38) en Brett Mitchell (2/28) vir slegs 154 lopies uitgeboul.
* Young Peoples I en II speel Saterdag onderskeidelik weg en tuis teen Malmesbury tydens die eerste kragmeting van die 45-beurte kompetisie. Sondag speel Peoples I op Daljosafat in ’n derby teen Paarl terwyl die tweede span op Parys teen Paarl II kragte meet.