Somer begin by Oude Libertas
2007-11-22
DIS somer op Stellenbosch, waar die seisoen in hoogstyl gevier gaan word van laat November tot in Maart wanneer daardie einste wingerde hul herfskleure begin wys by Oude Libertas-amfiteater. Die Oude Libertas-somerprogram is propvol met alles wat dié seisoen die heerlikste tyd van die jaar maak. Daar’s ou vriende, besoekers uit verre lande, stories, blinkgoed, musiek vir alle smake en natuurlik smullekker eetgoed. Kortom, met dié program is daar g’n aand waarop enigeen verveeld tuis hoef te sit nie. Nataniël lui die feesgety in vanaf 27 November met vyf vertonings van Predicting Snow, ’n intieme produksie van tydlose musiek en stories oor onvervulde drome, Kerswense, onverklaarbare tradisies, ongewenste geskenke en ’n reikhalsende verlange na sneeu. Sy Kersproduksie is reeds ’n jaarlikse instelling in Pretoria en vanjaar kan Kapenaars dit ook vir die eerste maal ervaar. * Die Orkes van Inheemse Instrumente en Nuwe Tegnologie van die nasionale universiteit in Tres de Febrero, Argentinië, lewer onder leiding van Alejandro Iglesias Rossi op 5 Desember ’n eenmalige vertoning wat beloof om ’n sonderlinge ervaring te wees. Rossi se werke is al opgevoer in die beroemdste konsertsale ter wêreld en sy “Ancestral Rites of a Forgotten Culture” word as ’n meesterstuk van die 20ste eeu beskou. Sommige van die unieke instrumente wat bespeel gaan word, is ’n marímbula, ’n ayoreo-fluit en selfs eenhonderd kristalglas * Louise Carver en Flat Stanley wy die skemerkonsert-reeks op 9 Desember in. Kom luister na hul treffers sowel as ’n paar verrassende nuutskeppings op die opelugverhoog. * Die a capella-groep Navi Redd spog op 6, 7, en 8 Desember met ’n splinternuwe produksie, terwyl die immergewilde DNA Strings die gehoor op 15 Desember op ’n wêreldreis neem met Salsa Celtica. Laasgenoemde is ook deel van ’n besondere koproduksie tussen Oude Libertas en Kaapstad-opera. Zanne Stapelberg, Gloria Bosman, die Cape Town Opera Voice of the Nation-koor, DNA Strings, Janine Neethling (klavier en akkordeon) en James Grace (klassieke kitaar) bied op 13, 14 en 16 Desember Divas on a String aan, ’n program van verwerkings deur Neethling van Spaanse, Suid-Afrikaanse en klassieke musiek. Dié produksie is toegespits op die samesmelting van verskillende musiekstyle tot iets heeltemal nuuts en vars, sonder om die integriteit van die oorspronklike musiek in te boet. * Vakansietyd is darem nie dieselfde sonder stories nie en daarom ontbreek die program nie aan toneel nie. Kort voor Kersfees, 18 tot 22 Desember, kan mense hul kom verlustig aan “Sophia Mentz beredder haar boedel”, ’n werk geskryf deur P. du Plessis in opdrag van Absa en Aardklop 2007. Die regie is waargeneem deur Sandra Prinsloo en die rolverdeling spog met onder andere Annelisa Weiland en Eric Nobbs. * Einde Januarie kom Karoo Moose aan die beurt, Lara Foot Newton se aangrypende toneelstuk wat reeds verskeie pryse ingepalm het. * Danksy “Songs of Praise” is die dirigent Richard Cock landwyd daarvoor bekend dat hy ieder aan die sing kry. Ter viering van Kersfees, gaan hy op 23 Desember voor in ’n program van gewilde Kersliedere vir die hele gesin, bygestaan deur die Wynlandkoor en Kaapstadse Fees-blaasorkes. * Wat is Kersfees en Nuwejaar sonder blinkgoed? En wie ken blinkgoed beter as die pianis Liberace? Ons eie Rocco de Villiers bring sy produksie Liberocco van 27 tot 29 Desember op ’n unieke wyse hulde aan dié flambojante pianis en plaas almal in die regte stemming vir die Nuwejaarsvierings. * Die Jonny Cooper Orchestra tree 30 Desember, op in ’n konsert gevul met treffers van die groot geeste soos Benny Goodman, Tommy Dorsey, Duke Ellington, Frank Sinatra en Louis Armstrong, maar dis nie die enigste swing en jazz op Oude Libertas se spyskaart nie. By Oude Libertas groet almal die Oujaar met ’n heupswaai. Net soos verlede jaar, vermaak die Jonny Cooper Orchestra op 31 Desember die gaste tot middernag wanneer die vonkelwynproppe die aanbreek van die nuwe jaar sal aankondig. Gaste kan in die pouse ’n heerlike ete in die restaurant nuttig of ’n piekniek op die gras hou, terwyl die skreeusnaakse Dinner for One vertoon word. * Oude Libertas het ook ’n oplossing vir die ouers wat moedeloos gedink is aan maniere om die kleingoed besig te hou. Elke Saterdagoggend om 10:00 is daar kinderteater soos Sonde met die Spoke, Raponsie, Mienkie en die Bosdwerg, Prinses Kyala en die Kersfeesdief, Jan en die Boontjierank en Rooikappie en die Wolf. Bekende akteurs soos Nicole Holm, Martelize Kolver en Altan Ungerer sal die kinders vermaak. Vir medianavrae stuur ’n e-pos aan Jomarié Dick by media@oudelibertas.net. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of by die Oude Libertas-kaartjieskantoor. Skakel 021-809-7473 of 021-809-7380 vir meer inligting.
More
News
|