Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kat dood na drie dae in slagyster

Kat dood na drie dae in slagyster
 
2007-11-22

Lise Beyers

‘n JONG kat is die afgelope week dood nadat sy vir bykans drie dae in ‘n slagyster vasgevang was.

Die kat, Jodo, is verlede Woensdagoggend laas deur haar eienaars, Estelle en Marco Pestana, by hul huis in die Perdeskoen, Wellington, gesien.

Toe hulle die aand na werk by die huis kom was daar egter geen teken van Jodo nie.

“Jodo het met ons honde groot geword en het altyd saam met hulle na ons motor aangehardloop gekom wanneer ons by die huis aankom.

“Maar dié aand was sy weg en dit was baie vreemd.”

Hierna het ’n geweldig soektog ontstaan vir Jodo, maar sy het soos ’n naald in ’n hooimied verdwyn.

Saterdag is daar weer heeldag na haar gesoek en om ongeveer 18:30 het Marco die angswekkende miaau-geluide van ’n kat gehoor in die agterplaas.

“Jodo het agter ‘n watertenk weggekruip en toe ek nader aan haar kom, het ek met skok ‘n slagyster aan haar poot gesien.

“Die poot was totaal en al vergruis en my eerste reaksie was om dit uit die kloue van die yster te kry. Haar ander poot se naels was heeltemal afgeskeur, soos wat sy haarself probeer bevry het.

“Sy was ook erg ontwater en in ’n beswyming van skok. Ons is dadelik na die veearts waar sy noodbehandeling ontvang het. Sy moes daar bly sodat die toestand van haar poot gemonitor kon word.”

Maandag het Jodo se toestand egter verswak en daar is vasgestel dat die beskadigde poot deurtrek was met gangreen.

Die Pestana’s moes toe ‘n keuse in die gesig staar wat hulle nooit in hul lewens sal vergeet nie.

“Die veearts het gesê dat ons óf Jodo se hele been moet verwyder as sy ‘n kans op oorlewing wil hê, óf sy moet uitgesit word.

“Hy het egter verduidelik dat sonder ’n voorpoot gaan sy ’n baie moeilike lewe hê, en dit is ook ás sy oorleef.”

Die keuse is uiteindelik geneem om vir Jodo sag te laat heen gaan.

Beide Estelle en Marco is woedend oor die pyn en lyding wat hul kat moes verduur.

“Die feit dat sy Woensdag nie huis toe gekom het nie, is vir ons ’n bewys dat sy reeds toe al in die slagyster getrap het.

“Hierna moes sy onverpoos sukkel om haarself te bevry en boonop met haar voet in die yster haar pad huist oe vind. Sy was werklikwaar ’n dapper siel.

“Hoe wreed kan mense wees om enige dier in ’n slagyster te laat vang. Dit is seker een van die mees onmenslike dinge wat iemand kan doen.”

‘n Woordvoerder van Kaapse Natuurbewaring het ten volle saamgestem.

“Ons ondersteun hoegenaamd nie die gebruik van slagysters nie en is besig om met die regering te onderhandel dat alle slagysters in die nabye toekoms verbied word.

“Die gebied waar die voorval plaasgevind het, is nie ’n area waar daar met vee geboer word nie. Maar dit is nie ongehoord dat party wingerdboere slagysters stel vir klein bokkies wat hul jong wingerde vreet nie.

“Ons veroordeel ten sterkste hierdie wrede praktyk.”

Marco het gesê dat hy die slagyster na die polisie gaan neem om te kyk of daar vingerafdrukke gelig kan word.

* A cat has died after being stuck in ’n gin trap for three days.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za