Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Landelike plaaswag open

Landelike plaaswag open
 
2007-11-29


DIE Wellington Landelike Plaaswag se satelliet-polisiekantoor vir die Bovlei is geopen op Goedehoop-plaas, te danke aan talle skenkings van plaaslike boere.

Hierdie kantoor is tans naweke in werking, maar daar word beoog om die opera­sio­nele ure te verleng sodra meer mannekrag beskikbaar gestel word.

Die Wellington Landelike Plaaswag is twee jaar gelede geloods deur Wellington polisiebeampte insp Pierre Hugo en 17 vrywilligers van verskeie plase in die gebied.

Die doel van hierdie plaaswag is om die polisie en reserviste by te staan in die landelike gebiede, en om misdaad te teiken wat veroorsaak word deur veral drank- en dwelm­misbruik.

Die 17 vrywilligers wat op plase woonagtig is, het intensiewe opleiding ondergaan om onder andere konflikte te hanteer, in radiokommunikasie en hantering van misdaadtonele.

Toe hulle gereed was om in hul poste te val, is hulle toegerus met baadjies, flitse, tweerigtingradio’s en knuppels.

Later het skenkings van fietse dit moontlik gemaak om hul gebied te verbreed.

Vanweë die sukses van hierdie misdaadbekampings- veldtog het misdaad in die landelike gebiede om Wellington reeds gedaal.

Tydens voetpatrollies word daar gekonsentreer op bekamping van die onwettige verkoop van drank en dwelms, en daar word gesorg dat kinders snags na hul ouerwonings geneem word.

Padblokkades is ook dikwels op die plaaspaaie gehou, waartydens onpadwaardige en ongelisensieerde voertuie van die pad gehaal is.

Volgens insp Hugo het hulle geweldige positiewe terugvoering ontvang van die landbougemeenskap, sowel as die Wellington Land­bouvereniging.

Nog ’n diens wat aan die landelike gemeenskap gelewer gaan word, is die oprigting van ’n fietswerkswinkel by die satelliet polisiestasie.

’n Vraghouer is aan die Landelike Plaaswag geskenk en twee plaaslike mans is opgelei as fietswerktuigkundiges.

Insp Hugo het gesê dat talle mense in dié gebied op fietsvervoer staatmaak en dan is dit moeilik om ‘n stukkende fiets dorp toe te neem op herstel te word.

“Die persone wat opgelei is, gaan die polisiefietse van die Plaaswag verniet herstel, maar ’n klein fooi sal gevra word vir die herstel van die fietse van lede van die publiek.

“Hul gaan dit geheel en al as ’n besigheid bestuur en ons sien talle werkskeppingsmoontlikhede hierdeur.”

Insp Hugo het die plaaslike gemeenskap verseker dat die Plaaswag te alle tye byderhand sal wees om te verseker dat die feesseisoen hier vreedsaam en veilig verloop.

* The Wellington Rural Farm Watch has opened an office in the Bovlei area to combat crime.




More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za