Lucas Maree en dogters hou somer-Kersfees
2007-11-29
DIE bekende sanger Lucas Maree en sy dogters, Linda en Monica, tree op Vrydag 7 Desember op by die Bridge House Teater in Groot Drakenstein. Die deure open om 18:30 vir pieknieks en die vertoning begin om 20:00. Hulle gaan ou gewilde liedjies soos Stille Nag, Sonneblom uit Betlehem van Lize Beekman, Lord of the Dance van Laurika Rauch en Somer-Kersfees van Koos du Plessis laat herleef. Daar is egter ook ’n hele hoop nuwe stories en liedjies wat hy versamel en geskryf het. Lucas beskik oor die vermoë om konsert te hou sonder dat dit voel soos ’n konsert. Hy kuier as t’ware saam met sy gehoor. Dis dan die rede waarom hy so ingeskakel is en jou op ’n reis neem van stories, vertellinge en gewilde liedjies. Die een oomblik is jy gevul met nostalgie, die volgende oomblik skaterlag jy, net om weer later ’n traan weg te pik. Aan die einde van die aand voel jy kompleet asof jy met goeie, ou vriende saamgekuier het. Dit is die tyd van die jaar vir nostalgie, vir lekker kuier saam met goeie vriende en familie, iets om die wonder en opgewondenheid van Kersfees weer te laat herleef, iets vir die siel. Kaartjies is R95 by 072-506-6000. Kredietkaartfasiliteite is beskikbaar.
More
News
|