DIE kollig het onlangs in die Oos-Kaap op Wellington se wyne geval met ’n wynveiling wat in Grahamstad aangebied is.
Dit was ’n fondsinsameling wat gesamentlik deur die Rapportryerskorpse van Wellington en Grahamstad aangebied is, op inisiatief van oud-Wellingtonner Joubert Retief, wat op die Bovlei-plaas Welvanpas grootgeword het.
Volgens organiseerder Braham Oberholzer, sekretaris van die Wellington Rapportryerskorps, was dit ’n geleentheid vir beide korpse om fondse in te samel vir aanwending in hul onderskeie gemeenskappe.
Daarby het die geleentheid ook ten doel gehad om Wellingtonse wyne aan die Grahamstadse gemeenskap bekend te stel.
Oberholzer vertel dat die Grahamstad Korps danksy heelwat advertering tafels vir die aand verkoop en seker gemaak het dat die regte mense genooi is.
“’n Gesonde bedrag is ingevorder, maar die belangrikste van die aand was egter die opgewondenheid om die wyne wat te proe aangebied is,” vertel hy.
Die Wellingtonse afslaer David Malherbe het op voortreflike wyse kortliks uitgewy oor elke wyn wat te koop aangebied is.
Onder die groot trekpleisters van die aand was magnum- bottels wyn van Welbedacht, wat deur Schalk Burger senior en sy Węreldbekerseun Schalk onderteken is.
Met die Węreldbeker-rugbytoernooi nog vars in die geheue, het die manne stewig daarop gebie.
Wyne van ander bekende Wellingtonse kelders is ook op die veiling aan die gaste aangebied, soos Wamakersvallei, Doolhof, Bovlei, Diemersfontein, Blouvlei en DGB.
“Wyne van onder andere KWV, Kanonkop en Spier is ook opgeveil, maar die gedagte was uitsluitlik om op die aand net die Wellington wyne te proe aan te bied,” vertel Braam.
Onder die wyne wat geproe is, was dié van Welvanpas, met Joubert se broer Dan as wynmaker.
Weens die belangstelling word ’n soortgelyke aand oorweeg, met die moontlikheid om meer kundige bespreking rondom die wyne daarby in te sluit.