Oud en jonk vermaak by die Ou Meul-teater
2007-11-29
MUSIEK- en dramaliefhebbers, oud en jonk, kan hulself regmaak vir hope vermaak by die Ou Meul-teater in die Paarl die volgende twee weke.
* Kom deel in ’n heerlike kinderproduksie, Umwolfi en die Towergeskenk, waar oud en jonk weer leer dat Kersfees ’n tyd is vir Liefde en omgee, Saterdag om 10:00. Riddeldiddel besluit om vir haar beste maatjie, Raddeldaddel ’n spesial partytjie te hou vir haar verjaarsdag. Sy besluit om sommer Kersfees ook te vier met die partytjie. Umwolfi en Tjokkelok kom van die Kerspartytjie te hore en besluit om al die geskenke te steel… Gaan Riddeldiddel dit regkry om die geskenke terug te kry? Kaartjies is R25.
* Leandi en Lelani is ’n 17-jarige identiese tweeling wat vanaf 2000 musiek maak onder die naam Take 2. Hulle tree op Woensdag 5 Desember om 20:00. Musiekregisseur Theo Crous (van Kobus en Springbok Nude Girls) het hulle by ’n vertoning in 2006 raakgesien en was so beïndruk met hulle gemak op die verhoog, stylvolle pretaanslag en ooglopende talent, dat hy aangebied het om hulle debuut CD Doem Doem Doem te vervaardig. Kaartjies is R35.
* Die kinderproduksie, Prinses Jana en die Brullebak, is Vrydag 7 Desember om 10:00 op die planke. Prinses Jana kyk heeltemal te veel televisie. Die koning het al gesê sy sal regtig vierkantige oë kry! Maar vir die klein prinsessie is daar niks wonderliker as die bewegende prentjies nie. Wanneer die “remote control” eendag spoorloos verdwyn, kom Prinses Jana op ’n geheime televisiewêreld af, ’n wêreld waar die nare Brullebak sy eie slinkse planne het om al die kinders sy slawe te maak! Maar hoekom klink dit alles so vreeslik bekend? Kaartjies is R30.
* Nog ’n kinderproduksie, Prins Dirkie en die Seerowerkat, is Vrydag 7 Desember om 11:30 op die planke. Prins Dirkie en sy tomboy-maatjie, Anabel, is terug vir ’n nuwe avontuur! Prins Dirkie droom nog steeds daarvan om ’n ridder te wees, maar sy swaardjie is van hout, en vir gevaarlike gedoentes is hy maar skrikkerig! Hierdie keer oorreed Anabel hom om Seerower-Seerower te speel. Wanneer ’n regte egte Seerower Kat vir Prins Dirkie vang, moet hy en die maatjies vinnig aan ’n plan dink! Maar watse snaakse geluide kom uit die donker bos? En hoekom kyk die Seerower Kat elke nou en dan oor sy skouer? Kaartjies is R30.
* Die ou gesegde lui dat die waarheid die reinste is uit die mond van die suigeling. In die kabaret, Sê jy ek is dik? Vrydag 7 Desember om 20:00, word die gesegde tot sy uiterste getoets. Nie net is die waarheid wat aangespreek word ’n gevoelige een nie, maar die vier kunstenaars betrokke is ook baie jonk. Sê jy ek’s dik, is ’n snit uit die lewens van Amanda en Susan, twee oorgewig (kom ons sê maar vet) dames. Hulle vertel met krummels om die mond van hul daaglikse struwelinge met hul ‘gewigsvoordeel’. Die karakters word vetolk deur Yolande Rabe en Marika Reinke, met begeleiding deur Lukas Heinen. Kaartjies is R60.
* Saterdag 8 Desember om 20:00 sal Nedine Blom gaste vermaak met haar musiekstyl wat getuig van eenvoud, teerheid en passie. Haar musiek bevat ’n poëtiese lirieke en verleen ’n besondere kleur aan Afrikaanse musiek in die algemeen. As sopraan het Nedine Blom gehore die afgelope tyd in vervoering gehad met haar soet stem en innige vertolkings van klassieke treffers. Kaartjies is R60.
Skakel Vicky Stemmet by 083-564-00 56.
More
News
|