DIE eerste span van Bergrivier Krieketklub het die afgelope naweek hul rieme lelik styfgeloop nadat GT Paarl-Oos hul Sondag op Wellington met 145 lopies verslaan het tydens die openingsnaweek van die 45-beurt kompetisie.
Die Paarliete het eerste gaan kolf en die druk van hul teenstanders goed verwerk om uiteindelik 235/5 in hul toegelate beurte aan te teken.
Veral Kurt Julius het met die kolf uitgestaan met ‘n pragbeurt van 94 lopies (4x4).
Die Bergrivier-beurt het rampspoedig begin en die Wellingtonners het gesukkel om aan die gang te kom.
Paarl-Oos se boulaanval het egter die deurslaggewende rol gespeel. Hulle het Bergrivier almal vir 90 lopies uitgehaal.
Elroy Abrahams (5/31) en Dennis November (4/24) was die doring in Bergrivier se sy gewees.