DIE Boland-flank Frankie Horne (25) het verlede week saam met die nasionale span na Dubai vertrek vir die openingstoernooi van die Internasionale Rugbyraad se 2007/08 Sewes-reeks.
Horne, wat alreeds internasionale sewesondervinding agter sy naam het, het onlangs weer die keurders beïndruk tydens die Safari-toernooi in Kenia (Opkomende Springbok-sewesspan) asook die nasionale proewe (SA Vipers).
”Ek is baie opgewonde om weer by die nasionale sewesspan betrokke te wees,” het Horne vertel. “Dit is so ’n groot eer om jou land te kan verteenwoordig.
”Ek het vroeër die geleentheid gekry, maar het nie my kans ten volle benut nie.
”Paul Treu het my onlangs vir twee oefenkampe by die Instituut vir Sportwetenskap genooi waarna ek by die toergroep ingesluit is.
”Ons is redelik goed voorberei, maar het ’n moeilike taak wat voorlê in Dubai, veral omdat Engeland in ons groep is.
”Ten spyte hiervan staan ons nog steeds ’n goeie kans om die eerste been van die reeks te wen, maar die groot toets gaan kom wanneer ons die daaropvolgende kompetisie in George gaan speel.
”Daar gaan natuurlik baie druk op ons wees, maar ons wil graag van die begin af domineer.
”Dit is belangrik om ’n oorwinning tuis te behaal aangesien ons vasbeslote is om die reeks in sy geheel te wen,” het Horne verder verduidelik.
Wat die toekoms betref, is Horne oorgehaal om sy plek in die Springbok-Sewesspan te behou.
“Die langtermynplan is om voor te berei vir die Wêreldbeker in 2009. Ek gaan dinge maar van dag tot dag aanpak.”
* Die Springbok-Sewesspan het tydens die eerste ronde groepwedstryde aldrie hul kragmetings gewen. Die Suid-Afrikaners het 21-7 met die Skotte afgereken terwyl Portugal ’n loesing van 40-7 toegedien is. Die belowende Argentynse span was waardige teenstanders, maar moes ongelukkig met 19-7 die knie buig.