Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarl-Oos skrop Weskus-manne

Paarl-Oos skrop Weskus-manne
 
2007-11-29


DIE eerste span van GMT Paarl-Oos Krieketklub het verlede Saterdag tydens die openingsnaweek van die 45-beurt kompetisie die gekombineerde span van Vredenburg/Saldanha (V/S) op hul tuisveld met ses paaltjies geklop.

Die besoekers het die loot gewen en die Weskus-manne ingestuur om eerste te gaan kolf.

Paarl-Oos se boulers het uitstekend gevaar om hul teenstanders onder druk te plaas, maar minder bevredigende veldwerk het dié doodsgreep op die wedstryd by tye ongedaan gemaak.

Alhoewel V/S kop gehou het om nie onnodig hul paaltjies weg te gooi nie, was die lopietempo geensins ’n bedreiging vir die besoekers nie.

V/S het in hul toegelate beurte 205/6 aangeteken

Die Paarliete se kolfbeurt het ’n bietjie wankelrig begin met twee paaltjies wat binne die eerste ses beurte gekantel het.

’n Uitstekende vennootskap om die derde paaltjie tussen Bruce Miller (110, 11x4 en 2x6) en Ferdie Jonathan (29, 1x4) het egter die wa vir Paarl-Oos deur die drif getrek en hul weer op stryk gebring vir ’n oorwinning.

Wat veral beïndruk het van die Paarliete se spel, was die wyse waarop daar tussen die paaltjies gehardloop is om die telbord aan die gang te hou.

Waylon September het ook ’n goeie bydrae met die kolf gelewer ná ‘n beurt van 37 lopies (2x4).

Paarl-Oos het met goeie, verstandige krieket 206/4 aangeteken om die wedstryd te beklink.

Die tweede span van Paarl-Oos het tuis met V/S afgereken nadat hulle 191 lopies aangeteken het voordat almal uitgeboul is.

Mario de Kok (42, 7x4), Jermaine Didloff (33, 4x4 en 1x6) en Wade Adams (25, 3x4) het goeie bydraes gelewer om Paarl­Oos in ’n redelik gemaklike posisie te kry.

Dit was egter die Paarliete se boulwerk wat die laaste spyker in die Weskus-manne se doodskis was.

Adams het hier ook uitgeblink met vier paaltjies vir die verlies van 34 lopies.

Hy is ook goed bygestaan deur Kurt Julius wat 2 paaltjies laat kantel het vir 37 lopies.

GMT Paarl-Oos I en II speel Saterdag onderskeidelik tuis (New Orleans) en weg (Pen Basson-veld) teen McCarthy Toyota (Paarl) Wellington Krieketklub.

Paarl-Oos bied ook Saterdag ’n braaivleis-ete aan by die klubhuis vanaf 14:00. Kaartjies is R25.

Verder bied hulle ook volgende Saterdag ’n karaoke by die klubhuis aan. Toegang is R5.

* GMT Paarl East Cricket Club outclassed Vredenburg/Saldanha on the week­end for a six-wicket victory.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za