DIE eerste keer wat Wellingtonners van Bronwell Williams kennis geneem het, was toe hy in die eerste wedstryd wat hy op senior vlak op die Pen Bassonvelde gespeel het, ’n uitstekende 101 lopies vir Young Peoples saam met Justin Ontong aangeteken het.
Interessant genoeg is dié beurt egter nie Bronwell, wat deesdae speler-afrigter van die McCarthy Toyota Wellington Krieketklub is, se persoonlike kriekethoogtepunt nie.
Ook nie die 103 lopies wat dié regterhandse houespeler vir Wellington verlede seisoen teen Coronations geslaan het nie.
En ook nie die biertjie of twee wat hy vroeër vanjaar in Dublin saam met sy krieketheld, Darryll Cullinan, geniet het toe die Proteas in ’n driehoekige reeks teen Indië en Ierland gespeel het nie.
Dis veel eerder ’n heelwat laer telling van 57 lopies nie-uit-nie, wat hy vanjaar vir sy Noord-Ierse klubspan Cliftonville geslaan het, waarop hy die trotsste is.
“Dit was ’n ‘game’ wat ons net moes wen,” vertel dié gebore en getoë 28-jarige Paarliet en oud-Gimmie wat reeds ses seisoene van Britse krieket agter die rug het, “sodat ons na Seksie 1 van die Ulster Premierliga kon opskuif.”
Daarby was dit ’n plaaslike derbystryd teen Woodvale wat op dié se tuisveld gespeel is.
Gemoedere tussen die twee spanne en hul ondersteuners het behoorlik hoog geloop, soos wat dit net in Noord-Ierland kan wees wanneer ’n tradisioneel Protestantse span teen ’n tradisioneel Katolieke span uitdraf.
Bronwell het op nommer sewe gaan kolf, en nie op sy gebruiklike nommer vier-posisie nie, aangesien een van sy spelers griep onder lede gehad het.
“Ek het die wenlopies geslaan sodat ons na die hoër liga kon opskuif in die laaste boulbeurt, met die nommer 11 kolwer saam met my,” vertel Bronwell oor dié beurt waarin hy behoorlik moes koelkop bly om sukses te kon behaal.
“En toe moes ons behoorlik hardloop om in die kleedkamers te kom, want toe is daardie Woodvale manne ongelukkig,” lag hy nou daaroor.
Volgende seisoen gaan hy weer terug as speler-afrigter van Cliftonville, om te verseker dat dié span hul merk maak in die hoogste plaaslike liga.
Dit sal dan die hoeveelste jaar wees wat hy nie ’n winter beleef nie, want vir die afgelope paar jaar pendel hy na afloop van die Suid-Afrikaanse krieketseisoen na Brittanje om in hul somermaande daar krieket te speel en af te rig. ’n Waardevolle deel van sy werk daar is ook om plaaslike skole te besoek en om jong talent te werf vir die klub se jeugspanne.
Sy eerste klub was Oswestry naby Manchester, waarna hy ook as speler-afrigter betrokke was by Burton Latimer in die Engelse Middellande, Leinster in Dublin en Camborne in Cornwall.
Dis ervaring wat geld nie kan koop nie, glo hy, want nie net leer jy baie van die spel nie, maar baie van jouself as jy so ver van die huis af is.
En dis harde werk, want as professionele speler eis die klub vir wie jy speel hul pond vleis as jou span of jou eie spelpeil nie na behore is nie.
Bronwell, wat onder meer kaptein van die Boland o.17 en Boland o.19 Satellietspan was, en ook die Boland Senior Platteland Span vir vier seisoene verteenwoordig het, is een van ’n tweeling.
Hy kom uit ’n baie sportiewe familie van krieket- en hokkiespelers. Hy vertel hoe hy behoorlik langs die Young Peoples krieketveld grootgeword het, vir wie pa Bevin destyds gespeel het. Sy ma, Verlene, was weer ’n goeie hokkiespeler.
Sy eerste krieket het hy ook vir Young Peoples gespeel, eers in hul destydse o.15- en o.19-spanne, en later ook op senior vlak.
As deel van die Boland Krieketraad se jeugontwikkelingsafdeling het hy van 2000 tot 2005 Noord-Boland en Sentraal-Boland platgery om te help met afrigting en krieketklinieke.
Dit het hom ’n goeie kans gegee om ’n oog te hou oor die talent wat plaaslik beskikbaar is.
Hy was ook reeds betrokke by die afrigting van verskeie skole in die Vallei, onder wie Boland Landbouskool.
In sy eerste seisoen by die Wellington Krieketklub in 2004/2005 was hy kaptein van die span.
Die volgende twee seisoene het hy onder die vleuels van hoofafrigter Bassie Basson as hulpafrigter diens gedoen en waardevolle lesse geleer.
Vanjaar het die kans hom voorgedoen om die klubspanne self te kan slyp.
Hy geniet dit om afrigter te wees, om te werk aan spelers se dissipline en hul onderskeie talente, en hulle te help om hul vaardighede ten beste te te verfyn.
Dis ’n loopbaan waarop hy homself toenemend op die langtermyn wil toelê, hier of oorsee.
En, sê hy, hy kan nogal ’n motiverende spanpraatjie lewer. Want ’n man moet in homself kan glo, en ook in sy span se vermoëns. “Daar moet respek vir ’n span wees.”