ALLE kerke en instansies wat klokke het, word gevra om dit op Saterdag 1 Desember om 12:00 te lui as deel van die herdenking van die vrystelling van slawe.
’n Kort dankseggingsbiduur sal op Vrydag 30 November vanaf 13:00 tot 13:30 in die ou slawekerkie (Het Gesticht) te Hoofstraat 112, Paarl, gehou word. Almal in die gemeenskap word genooi om dit by te woon.
Op versoek van die Wes-Kaapse Erfenisraad, word die vrystelling van slawe in die Kaapkolonie (1 Desember 1834/1838) vanjaar gevier.
Tydens die eerste Britse besetting (1795-1803) en die Bataafse Republiek (1803-06) het die werkerskaarste die owerhede verplig om die verdere invoer van Afrika-slawe te magtig. Maar albei regerings het gehoop dat Europese arbeid spoedig slawearbeid sou vervang.
Die Britse wet op die afskaffing van slawehandel het dit sedert 1807 onwettig gemaak om ná 1 Maart 1808 slawe by enige Britse hawe af te laai.
En dis hoekom daar hierdie jaar, na 200 honderd jaar, die afskaffing van slawehandel gevier word.
Veral dorpe soos ook Paarl, waar vóór 1834 slawerny ’n algemene instelling was, is gevra om aan die herdenkingsgeleentheid deel te neem.
In ’n tyd waarin daar in ons eie land ’n nuwe besef is van die menswaardigheid van alle mense, is dit amper vanselfsprekend dat ook die Paarl-streek hierdie datum sal wil vier.