PAARL POST se Kersfonds het hierdie week sommer ’n stewige bydrae gekry en dit nogal uit Finland!
Saam met die skenking van Tomas Paukunnen (wie se ma van die Paarl af kom) en ’n skenking van R2500 van die firma Filmatic staan die Kersfonds se insameling vanjaar al op R40 415,90. Filmatic daag ander plaaslike firmas uit om hul voorbeeld te volg
Die agtjarige skoliertjie Tomas Paukunnen, van die dorp Pori aan die weskus van Finland, het sy hart oopgemaak en al sy spaargeld aan die Kersfonds geskenk.
Hulle geldeenheid is in Euros en omgereken in Suid-Afrikaanse Rand-geldwaarde, beloop dit ’n allemintige R10 000! Dis een van die grootste enkele bydraes wat die Kersfonds tot dusver gekry het!
Kleine Tomas het ’n Suid-Afrikaanse ma wat vanaf die Paarl kom en hy dra ook ’n Suid- Afrikaanse paspoort. Pori is omtrent so groot soos die Paarl en sowat 350 km van die Finse hoofstad Helsinki.
Sedert sy geboorte kom kuier Tomas gereeld elke tweede Kersfees in die Paarl. Hierdie jaar bly hy egter in Finland vir ’n sneeuwit Kersfees.
Die gesin weet omtrent alles wat in die Vallei aangaan, want mamma Dayvene lees getrou al die nuus van die Paarl Post op die internet en moet alles oorvertel.
Die Afrikaanse-gogga het klein Tomas gebyt en sy ma is nou besig om hom Afrikaans te leer lees en skryf. Sy sê dat hy baie gretig is en saans kan hy nie wag sodat hulle twee voor die rekenaar kan inskuif om met lesse te begin nie.
Sy Afrikaanse taalvaardigheid is reeds so ver gevorder dat hy, al was dit met horte en stote, die berig oor die Kersfondsbydraes vir hulle gelees het en so het hy sommer daar en dan besluit om ook ’n bydrae te maak.
Met sy besoeke aan Paarl, het Tomas altyd maar sy kleiner klere saamgebring wat hy aan Murray Kinderhuis in Wellington geskenk het.
Die seuntjie is ’n aktiewe sportman en is versot om yshokkie te speel. Hy stuur vir al sy vriende Kersgroete en veral ook die Paarl Post-lesers.
Pa Juha moes toe kom help met die trek van die geld uit sy spaarrekening en plegtig het Tomas gesê dat dit terstond vir Paarl Post gegee moet word om die minderbevoorregte kindertjies so oud soos hy te help.
Hy het ’n elektroniese oorbetaling gedoen en met Tomas Paukunnen se bydrae, staan die Kersfonds nou op R40415,90.
Daar is nog net vier weke oor voordat vanjaar se insameling op 21 Desember sluit.
Wil jy graag plaaslike welsynsorganisasies help?
Alle skenkings van lesers aan die Paarl Post Kersfonds gaan aan plaaslike welsynsorganisasies deur die Wes-Kaapse Gemeenskapskas, wat sowat 30 verdienstelike plaaslike organisasies steun.
Stuur skenkings aan Paarl Post Kersfonds, Posbus 248, Paarl 7620. Skenkings kan ook direk inbetaal word in die Wes-Kaapse Gemeenskapskas/Paarl Post Kersfondsrekening 62152029007 by FNB (taknr 261150) en faks die strokie na 021-872-9280.