’n JONG man met ’n blink toekoms het onlangs enkele meters van sy ouerhuis skielik neergeslaan en gesterf.
Angelo Cupido (18), ’n graad 11 leerder van Klein Nederburg Sekondêr in die Paarl, het die aand ’n studiebreek geneem en na sy neef se huis in Bolandpark gestap.
Toe hy op pad terug was na sy ouerhuis in Van der Stelstraat, het hy ineengestort.
Sy gebroke pa, Cyril Cupido, het gesê dat toe Angelo nog nie teen 22:00 die aand by die huis was nie, het hy hom gaan soek.
“Angelo was nie ’n rondloperkind nie en as hy uitgegaan het, het hy altyd betyds by die huis gekom.
“Hy het heel dag studeer en het vroegaand gesê dat hy net ’n bietjie asem wou skep.
“Hy is na sy neef toe en het gesê dat hy om 22:00 sal terug wees om verder te leer.
“Toe hy teen 22:10 nog nie tuis was nie het ek na hom gaan soek. Dit is toe dat ek die polisievoertuie se ligte buite sien flits het.
“Iets het vir my gesê dat dit Angelo is en ek het na die toneel gehardloop, maar hulle het my gekeer om hom te sien, want hy was reeds dood.”
’n Nadoodse ondersoek is nou geloods na die oorsaak van Angelo se dood. Daar word vermoed dat hy gesterf het aan hartversaking.
Angelo het sy skoolloopbaan begin by Laerskool Gimnasium, waar hy ’n kranige rugbyspeler was.
“My seun was fiks en het geen gesondheidsprobleme gehad waarvan ons weet nie.
“Hy was ’n flink leerder en het net twee aande voor sy dood twee sertifikate, vir verbruikerstudie en wiskunde, by sy skool se prysuitdeling ontvang.”
Twee weke na die tragiese voorval kan die Cupido’s steeds nie hul seun se skielike dood aanvaar nie.
Omdat dit so naby aan hul huis plaasgevind het, het hulle nou tydelik uit hul huis getrek en gaan tans tuis by hul dogter in Charleston Hill.
“Ons kan nie by ons huis woon met die daagliks herinnering van Angelo se liggaam voor in die straat nie.
“Hy was ’n voorbeeldige kind. Nadat sy ma, Sylvia, twee rugoperasies moes ondergaan, het hy vir haar gesorg sonder om ooit te kla.”
’n Jarelange vriendin van die familie, Karin Hugo, staan tans bankvas agter die gesin. Sylvia het vir haar familie gewerk en Angelo was soos ’n kind in haar huis.
“Angelo se dood was vir ons almal ’n groot skok en sy heengaan laat ’n leemte in almal wat hom geken het se lewens.”
Marleze Esterhuizen, Angelo se onderwyseres by Klein Nederburg, het gesê dat hy ‘n voorbeeldige, pligsgetrou leerder was wat gemis gaan word by die skool.
Hy word oorleef deur sy ouers, twee susters Vinolia (30) en Ashley (25), en broer Marcelino (27).
* A young man died mysteriously, apparently of a heart attack, only metres from his home.