DIT lyk of inbrekers vir LK Zeeman Primêr in Amstelhof geteiken het, want by die skool is hierdie jaar reeds dertien keer ingebreek.
“Die blikskottels verinneweer die skool met ruite wat uitgeslaan word, plafonne wat uitgetrap of uitgeruk word, krane wat gesteel en rakke wat skeefgetrap word,” sê ’n ontstoke skoolhoof Fabian Meyer.
“Die skool het omtrent 350 leerlinge en bedien ’n gemeenskap wat dit nie juis breed het nie.
“Dis die kinders wat uiteindelik onder hierdie inbrake ly en broodnodige geld wat elders in meer belangriker behoeftes by die skool moet voorsien, moet nou gebruik word om vir die skade te betaal. Ons versekeringspremies skiet ook die hoogte in!”
Meyer vertel dat die skool erg deurloop en hierdie maand alleen is drie keer ingebreek.
Die graad drie-klas van opvoeder Natasha Cupido is die jongste slagoffer. Die belhamels het by een van die vensters aan die suidekant ingekom, op die boekrakke getrap, die plafon uitgedruk en deur die dak beweeg om by die ander klasse langsaan uit te kom.
“Dis die derde keer dat by my klas ingebreek word en die skade beloop meer as R2000. Drie plastiekkiste met skryfbehoeftes en boeke is gesteel, maar mens kom nie dadelik agter wat alles weg is nie.
“Ek moet elke keer deur die inventaris werk om die presiese items wat gesteel is, vas te stel. Dis baie werk, veral nou dat ons besig is met die eksamen en daar nie eintlik tyd daarvoor is nie,” kla sy.
Volgens skoolhoof Meyer kos die inbrake die skool duisende en hoofsaaklik hulpmiddels en skryfbehoeftes word gesteel.
Die polisie gee nou hulle samewerking om die sake op te los en hy het ook vertoë gerig aan die onderwysdepartement om die skool meer paraat te maak deur die veilige skole- projek.
’n Sekuriteitswag is vir die skool aangestel en die omheining gaan lemmetjiesdraad kry.
Die alarmstelsel gaan opgradeer word om nie net die adminblok nie, maar al die klaskamers en selfs die toilette te dek.
Die klaskamervensters kry versterkte diefwering sodat selfs die ruite nie uitgegooi kan word nie. Voor die skoolingang kom ’n gemotoriseerde hek sodat beter beheer oor toegang uitgeoefen kan word.
Hopelik sal hierdie maatreëls die skool vrywaar teen verdere inbrake in die toekoms.
“Die inbrake geskied saans en ek doen ’n beroep op die bure en die gemeenskap om asseblief groter verantwoordelikheid vir die skool te neem om dit wat ons het en wat ons kry, op te pas,” het skoolhoof Meyer gesê.