Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Fikse gesin sit min stil

Fikse gesin sit min stil
 
2007-11-29


Engela Duvenhage

WANNEER die fikse Van der Vyvers van Wellington op vakansie gaan, is daar behoorlik ’n trek wat moet saam. Van fietse, swempette tot vyf pare tekkies en balle.

Want om te draf, te swem of fiets te ry – basies enige oefening - is hul lewe.

“Ons oefen graag saam, elkeen teen sy eie pas,” vertel ma Almaré, oor die gesamentlike passie wat haar gesin vir sport het. “Ons doen absoluut alles saam.”

Die gesin is egter nie net bloot lief vir sport nie, hulle blink boonop daarin uit ook.

Dit kort kophou om by te hou by al hul prestasies. Van Boland en Suid-Afrikaanse kleure in biathlé, wat Hanré (12), Luan (10) en pa Johan almal vanjaar verwerf het, tot Wes-Kaapse kleure in swem vir die twee oudstes.

Luan het ook al goue medaljes verower op die Suid-Afrikaanse swemkampioenskap­pe, en is vanjaar ’n Suid-Afrikaanse tweekampkampioen.

Hanré het al vir Sentraal-Boland netbal gespeel, terwyl sy onlangs aan binnenshuise hokkieproewe deelgeneem het.

Johan, ’n eenmalige Comrades-deel­ne­mer, het reeds dertien Two Oceans wedlope agter die blad.

Almaré het op haar dag Boland-kleure in tweekamp verwerf, ’n prestasie wat sy ook met haar twee oudste spruite deel.

En gemeet aan die familie se gesonde gene gaan Nicolene (9), wanneer sy oud genoeg is vir provinsiale deelname, ook haar merk in talle sportsoorte kan maak.

Die spreekwoordelike kersie op die koek vanjaar was Johan, Luan en Hanré se deelname aan die Wêreld Biathlé Kampioenskappe in Monaco, waar hulle aldrie vir Suid-Afrika in verskillende ouderdoms­groe­pe verteenwoordig het.

Biathlé, ’n sportsoort waarin Suid-Afrika en Engeland van die sterkste mededingers lewer, is ’n meer intense, hoë impak variasie op tweekamp, en behels twee afwisselende hardloopbene en ’n swembeen wat gewoonlik in ’n natuurlike watermassa soos ’n dam of die see plaasvind.

“Dit verg meer kophou, en toets jou strategie baie meer as in tweekamp.

“Tweekamp, daarenteen, toets watter goeie atleet en swemmer jy is,” verduidelik Almaré. Dié sportsoort vind gewoonlik op ’n tartanbaan en in ’n swembad plaas.

In Luan se ouderdomsgroep, byvoorbeeld, word daar eers 500m gedraf, dan 50m geswem en daarna weer 500m gedraf. Sy wedloop is gewoonlik na net meer as vier minute verby.

In Monaco het pa Johan vyfde in sy ouderdomsgroep gekom, terwyl Hanré onder die top tien in haar groep gekom het.

Dit was egter Luan wat die kollig gesteel het deur as biathlé-wêreldkampioen in die ouderdomsgroep o.11 gekroon te word.

Al kon hulle nie self langs die baan wees om te help aanmoedig nie, kon ma Almaré en sus Nicolene darem al die aksie via ’n uitsending op die Internet volg.

“Sake het baie kop-aan-kop verloop, totdat Luan vir die laaste hardloopbeen eerste uit die seewater gekom het,” onthou sy trots.

“Die ander outjie het so uitgesak dat Luan hom met omtrent 100m gewen het, wat nogal raar is vir biathlé waar die top atlete gewoonlik kop-aan-kop lê.”

Hanré en Almaré het aanvanklik saam aan tweekamp begin deelneem, voordat die biathlé-gogga die gesin gebyt het.

“Ons moes in elk geval rondry agter die kinders aan, en het toe sommer besluit om ook deel te neem aan die kompetisies,” vertel Almaré.

Dié finansiële konsultant, wat die afgelope twee jaar as rekeningkunde-leerkrag by Hugenote Hoërskool afgelos het, hoop om self weer binnekort meer gefokus te kan begin oefen vir die lekkerte.

Benewens hul sportprestasies is die drie kinders ook op kulturele gebied presteerders, en ywerige lesers. “Dis beslis iets wat hulle nie van my of my man kry nie, seker eerder iewers van die voor­geslagte af,” lag Almaré.

Nicolene het al goud verwerf by die Eisteddfod vir haar individuele sang en voordrag, terwyl Luan, ’n ywerige blokfluitspeler, lid van Hugenote Laerskool se Orff-orkes is en ’n goue sangstem het. Hul prestasies laat ’n mens sommer uitasem.

Gelukkig lê daar nou vir hulle almal ’n welverdiende vakansie voor, voordat hulle weer vroeg in Januarie moet inval met hul swemoefenprogram om ’n plek by die Suid-Afri­kaanse swemkampioenskappe in Maart te verseker, asook die SA tweekamp-toernooi




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za