Kavaliers soek Poema pelse
2005-03-09
DIE Boland Kavaliers begin môre hul seisoen met die gemoedsrus van ’n goeie paar weke se voorbereiding agter die blad.
Die Kavaliers het in hul drie opwarmingswedstryde met die WP, SWD en Maties afgereken en hul breier, Hawies Fourie, is tevrede met die vertonings.
“Die spelers het in elke wedstryd progressie getoon en voortgebou op die vorige week se vertoning,” het Fourie gister gesę.
Die formaat van die Vodacom-reeks was op ’n stadium in die gedrang met die kompetisie wat dalk so kon verander dat elkeen van die 14 spanne teen mekaar moet speel. Die reëlingskomitee het egter berus by die twee afdeling-formaat.
Die Boland-span wat môre op Wellington teen die Poemas uitdraf, het slegs enkele veranderinge aan die span wat verlede jaar in die eindstryd van die Curriebeker se eersteliga gespeel het.
Ranfred Dazel en Warren Petersen is op die vleuels weens Ryno Benjamin se betrokkenheid by die Springbok Sewespan en ’n besering aan Jongikhaya Nokwe (Achilles-spier).
Frankie Horn van Wellington Rugbyklub maak ook sy debuut vir die Kavaliers op flank, in plek van Kobus le Roux (wat slegs vir die Curriebeker-reeks gekontrakteer is), terwyl Maurice Reid aan die ander kant van die skrum sal sak in plek van die beseerde Chris Potgieter.
Volgens Fourie spog die Poemas vanjaar met ’n sterker Vodacom-span.
“Ander jare het baie van hul spelers oorsee, in lande soos Italië, gaan rugby speel en net teruggekom vir die Curriebeker. Vanjaar is die meeste van dié spelers ook vir die Vodacom-reeks gekontrakteer.” Die Poemas se groter, swaarder agterspelers en meer mobiele pak was Fourie se riglyne vir Vrydag se spelpatroon.
“Ons gaan die druk op die voorspelers hou en veral fokus op besit in die vaste fasette. Agterlangs is die plan om hul swaarder agterspelers bietjie rond te jaag en uit te put,” het Fourie gesę. Die wedstryd begin om 17:00 op Boland Stadion.
Die Boland-span is: Antonius Verhoeven, Ranfred Dazel, Piet van Zyl, Jacques Badenhorst, Warren Petersen, Solly Goosen, Charl Blom, Henley du Plessis, Maurice Reid, Frankie Horn, Nicky Smit, David de Villiers, Tommy Dixon, Conrad Burke (k) en Fabian Brandt.
More
News
|