DERTIEN groepe rieldansers het behoorlik die stof laat staan op Paarlberg Saterdagaand tydens die finale van die ATKV se tweede rieldanskompetisie.
Mense van sover as Pella en Wupperthal het in die amfiteater onder die Taalmonument bymekaargekom om deel te neem en te kyk na die tweede rieldanskompetisie.
Die wenners van die aand was die Vredendal groep wat gekoördineer word deur Kate Cloete. Hulle het die ATKV Rieldans wisseltrofee en R3000 losgedans.
“Die aand was ’n groot sukses. Die positiewe is die groot aantal mense, omtrent 3000 mense, wat die geleentheid bygewoon het. Ons is definitief met die regte ding hier besig.
“Die standaard van die kompetisie is ook baie hoër as verlede jaar,” sê die ontwikkelingskoördineerder, Elias Nel.
Pieter van der Westhuizen het die ys gebreek met sy liedjie “Bokkie sê my reg” en die groepe het spontaan gewys hoe die riel nou regtig gedans word.
David Kramer in sy rooi skoene het gaste behoorlik laat lyf skud met sy sang.
Grabouw se groep het ’n spesiale prys ontvang, die David Kramer-trofee vir die beste lied. Die lied het weergalm teen die hange van die berg met poësie in kru taal met talle volksfrases.
Verlede jaar se kampioene, Wupperthal, het hard probeer, maar kon nie die kampioenskaptitel behou teen Vredendal se groep nie.
Die uitdunne was Vrydagaand en sewe spanne het deurgedring tot die finale.
Die volgende stap sal wees om streeksuitdunne by die kunstefeeste soos KKNK, die Hantam Vleisfees, Rittelfees en Sederbergfees te hou.