Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wellington toerisme ‘gekaap’

Wellington toerisme ‘gekaap’
 
2007-12-06

Anne Kruger

ONGELUKKIGE lede van die Wellington Toerismeburo win tans regsadvies in teen die “kaping” van die Buro se naam deur die ANC parlementslid Piere-Jeanne Gerber. Rekords van die Registrateur van Beslote Korporasies toon dat Gerber die enigste lid is van ’n beslote korporasie gestig op 19 Mei 2006 met die naam Wellington Toerismeburo, en daar is ’n nuwe telefoonnommer ook onder dié naam in die nuutste Telkom-gids gelys.

Die Wellington Toerismeburo bestaan al ongeveer 15 jaar as ’n bemarkingskantoor wat begin is met munisipale ondersteuning en wat diens aan toeriste verskaf uit die bekende gebou langs die NG Moederkerk in Hoofstraat.

“Nou is dieselfde naam geneem deur Gerber en hy bemark slegs sy gastehuis,” word gekla.

“Hierdie gedrag is ’n miskenning van die belange, naam en geskiedenis van die Wellington Toerismeburo”, is van die menings wat uitgespreek is.

Om sake te vererger, het die Drakenstein Munisipaliteit die Wellingtonburo se telefoonnommer slegs gelys onder “Munisipaliteit” in die telefoongids.

Gerber se “buro” is dus tans die enigste een waarop ’n lid van die publiek sal afkom indien die nommer in die gids gesoek word.

Gevra waarom hy ’n naam wat aan die gemeenskap behoort vir homself toeëien, sê Gerber die probleem spruit uit die Drakenstein Munisipaliteit se besluit twee jaar gelede om by toerismeburo’s op die wyer Drakenstein te fokus.

“Omdat ek ’n gastehuis by Malanstasie het, en die naam Wellington Toerisme verval het, het ek besluit om dit in my naam te registreer.

“Niemand het alleenreg op die gebruik van die naam Wellington nie - in die telefoongids is daar altesame 43 ondernemings wat die naam Wellington gebruik.

“Ek het gevrees dat die buro op Wellington nie meer sou omsien na die belange van die kleiner gastehuise wat nie lid is nie, maar het nie bedoel om die buro te benadeel nie.

“Sedertdien ontvang ons baie navrae vir huisvesting. Ons het die lys van gastehuise van die buro op Wellington aangevra, en gebruik dit om mense te help wat huisvesting soek, maar ons help ook met ander navrae oor die dorp.”

Die voorsitter van die Wellington Toerismevereniging, Annelise Stroebel, is baie ongelukkig oor die situasie en wys daarop dat Gerber se telefoon dikwels deur kinders beantwoord word.

“Ons nommer is per abuis nie vanjaar in die foongids gelys nie, maar ons doen daadwerklike stappe om die situasie reg te stel.”

Volgens haar kos lidmaatskap van die Vereniging R1200 per jaar, wat ’n posisie op hul webtuiste verseker, en ’n verdere R240 is betaalbaar om uitstalling van ’n lid se brosjure in die kantoor te verseker.

Girshwin Fouldien, hoof van ontwikkelking by Drakenstein Munisipaliteit, sê die stadsraad is besig om ’n konsepbemarkingsplan goed te keur.

Daarin word aangedui dat die dorpname soos Paarl Wellington as bekende narme bemark sal word en nie sal verdwyn nie.

Nogtans word alle toerisme- on­dernemings uit die buro’s bemark, nie net dié wat lidmaatskapgeld aan die Verenigings betaal nie, verseker hy.

Volgens Gerber is hy bereid om met Wellington Toerisme te onderhandel oor die naam-kwessie.

* Verhoudinge tussen Toerismeburo’s en die Munisipaliteit het twee jaar gelede erg versuur toe die stadsraad besluit het dat slegs kantore wat Drakenstein as geheel bemark, munisipale fa­siliteite mag gebruik. Die Paarl Toerismevereniging moes toe gevolg­­lik ver­huis van Auretstraat na Plantasiestraat.

Sedertdien het die konsultante van die Munisipaliteit oor die 2010 Sokkertoernooi hulle afgeraai om die gebied onder die Drakenstein-banier te bemark, en eerder bekende name soos Paarl en Wellington te gebruik.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za