Ons het verval in ’n gemeenskap van klaers.
Ons stap tussen die winkel se rakke deur en raak diep ongelukkig wanneer ons nie die produk kry wat die enigste een is wat nou eintlik die sous werd is nie.
So ook stap ek nou die dag deur die rakke en kry vir die soveelste keer nie die krummels waarna ek soek nie.
Sonder verwagtinge nader ek die assistent wat daar naby staan en verneem of die produk dan nog vervaardig word.
Sy weet waarna ek verwys, en bring ’n jong man nader met die naam Wessel trots op sy bors. Soos verwag stel hy toe ook teleur deur my mee te deel dat die produk nie meer vervaardig word nie. (Laat ek sommer die vervaardigingsproses ook voor sy voete neerlê.)
Hy ruk sy selfoon uit en begin ‘n paar oproepe maak – steeds verwag ek nie veel nie. Sal nou maar aan ’n ander plan moet dink vir vanaand.
Terwyl ek daar staan, kom Wessel terug na my met ’n ander werknemer en vra dié om my besonderhede te neem. Wessel het die produk by hul tak in die Paarl opgespoor en sal dit gou gaan haal en by my huis vir my kom aflaai. Wat? By my huis? Ek kon my ore nie glo nie!
Met ’n konstitusie enig in sy soort moet ons onthou om dankie te sê en erkenning te gee vir goeie diens. Dankie aan hierdie Wellingtonse supermark by die Markpleinsentrum vir uitstekende diens. Dankie Wessel en al die personeel wat my help onthou het dat regte nie ’n eensydige proses is nie.
Michelle Bezuidenhout