AS hoof van Hoër Jongenskool wil ek dit duidelik stel dat ek in samewerking met die beheerraad baie wyd gekonsulteer het voordat enige besluit rondom die kwessie van sokker as skoolsport geneem is.
Ek het nooit, soos die indruk nou gewek word, sokker se status probeer verlaag deur dit absoluut gelyk te stel aan enige ander sport nie.
Ek het slegs aangedui dat, om te redeneer dat mens ’n sport moet aanbied en daarmee moet volhou, suiwer omdat ’n groepie leerders dit verkies, sou beteken dat ons duisende sportsoorte sou moes invoer.
Dit sou, met alle respek, bloot onprakties wees aangesien ’n skool myns insiens moet besluit of hy gemiddeld tot swak wil wees in ’n menigte sportsoorte, of uitmuntend in ’n kleiner getal sportsoorte wat wyd deur skole aangebied word.
Ek het, voordat ek nog behoorlik by Boishaai was, ’n studie van die skool se sterk- en swakpunte gedoen.
Dit het gou geblyk uit my onderhoude met opvoeders, lede van die senior bestuurspan, ouers, beheerliggaamlede en leerders, dat sokker ’n besondere bestuursprobleem sou skep, omdat dit fasiliteite soos velde wat reeds hopeloos te min is, verby die punt van onderhoubaarheid sou uitput.
Sokker word ook slegs deur ’n handjievol skole aangebied, na die beste van my wete slegs een skool teen wie Boishaai normaalweg kompeteer. Dit beteken dat ons kinders teen klubs sou moes speel. Leerders van buite is ook gevra om vir Boishaai se spanne te speel.
Daar kon ook geen teenwoordigheid van opvoeders by hierdie sokkerspanne wees nie (aangesien almal al reeds betrokke is by ander, meer gevestigde aktiwiteite) en geen afrigters van binne die skool nie.
’n Skoolhoof het onder hierdie omstandighede min tot geen beheer nie, en dit sou onregverdig wees om van my te verwag om vir hierdie haas onmoontlike situasie verantwoordelikheid te aanvaar.
Daar is ook finansiële oorwegings: Afrigters en gehuurde velde kos geld, en sou ekstra druk op die begroting sit en dit terwyl die sport gespeel word deur hoogstens 60 leerders.
Uit verdere ondersoek het dit dan ook geblyk dat dit so min soos 40 leerders per geleentheid kon gewees het, minder as 7% van die skoolbevolking.
My hoof van sport het dit eweneens duidelik gemaak dat sokker as binnesport onoorkomelike probleme bring.
Ek het dus die Beheerliggaam, volgens artikel 21 van die SA Skolewet (Wet 84 van 1996), die enigste bepaler van die buitemuurse kurrikulum van ’n skool, gevra om die status van die sport te verander. Die Beheerliggaam het die voorstel aanvaar.
Sokker is ook baie beslis nie ‘verban’ nie. Die status van sokker is bloot gewysig na dié van ’n ‘buitesport’; die leerders word steeds aangemoedig om daaraan deel te neem, en alle provinsiale kleure sal erken word.
Ek is ook bereid om, indien daar in die toekoms grond vir velde beskikbaar word, die SBL te adviseer om hierdie saak weer in oorweging te neem, maar dan net na deeglike ondersoek en beplanning.
Derek Swart (hoof HJS Paarl)