Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Ongelukke eis lewens

Ongelukke eis lewens
 
2005-06-15


AMBULANSPERSONEEL en die polisielykhuisbeampte is die naweek toegegooi onder slagoffers van ongelukke en aanvalle.

Teen Sondagaand het konst Maynard Engelbrecht al tien liggame na die lykhuis gebring, en moes ambulanspersoneel byna 200 beseerdes en gewondes behandel en vervoer.

Konst Engelbrecht was Saterdagaand om 22:00 op pad na die lyk- huis met ’n moordslagoffer uit Wellington, toe hy op ’n ongelukstoneel by die Dalvale Motorhawe afgekom het.

Susan Absalom (51) van Rossouwstraat 17, Newton, het gesterf terwyl sy haar kleinseun met haar liggaam beskerm het.

Marwin Absalom (4), wat in die voorste passasiersitplek was, het met skrape aan die gesig daarvan afgekom.

Brian Appolis van Gardeniastraat 6, Wellington, wat in die tweede motor was, is vir behandeling na die Paarl Hospitaal geneem.

Susan se familie het hierdie week in hul hartseer geglimlag.
“Sy het die lekkerste, lekkerste lag gehad,” het hulle onthou.

Susan word oorleef deur getroude seuns Paul en Deon, dogter Michelle en sewe kleinkinders.

Die tuisdiens is Saterdag om 09:15 en die gedenkdiens om 10:00 in die Rooms-Katolieke Kerk, Barbarossastraat, Paarl-Oos.

* Charles Robyn (34), ’n bekende Franschhoekse rugbyspeler, het Saterdagaand in ’n botsing by La Motte gesterf op pad terug van ’n wedstryd wat hy as besoeker bygewoon het.

Robyn het as masjienoperateur by die Safcol saagmeule gewerk.
Hy laat sy vrou Dawn en twee seuns, Kenwin (15) en Dalyn (6). Die tuisdiens is Saterdag om 09:00 en die gedenkdiens om 10:00 by die Nuwe Apostoliese Kerk, Wemmershoek.

* André Arendse (21) van Gilfillanstraat 5, Paarl-Oos, het Maandagoggend om 03:30 in ’n motorbotsing in Mitchellsplein gesterf.

Hy en Lynden Fredericks (20) van Cloetestraat het die dag hul vriend, konst Jacques Smit van Eva Paulsestraat, Paarl-Oos, na Mitchellsplein vergesel toe hy vir nooddiens ingeroep is.

Hulle was op pad terug na die Paarl toe ’n taxi teen hulle gebots het. Die taxi-bestuurder het op slag gesterf.

Lynden is lig beseer en Smit is met ernstige bekkenbeserings in die Vincent Palotti Hospitaal opgeneem.

André het ná matrikulasie aan Klein Nederburg Sekondêr by ’n tabakmaatskappy begin werk. Sy hartseer gesin onthou hom as die “fantastiese, saggeaarde kind met die wye vriendekring, die rugbykaptein wat vir Pniel Villagers flank gespeel het.

André word oorleef deur sy ouers, oud-onderwysers Alfred en Jean Arendse, en sy broer, Julian (23).

Die gedenkdiens is Saterdag om 10:00 tuis en om 11:00 in die Ascension Kerk, Klein Drakensteinweg.

* Johnny Grootetjie (26) is die naweek oorlede toe hy Saterdagaand die Klapmuts-Simondiumpad oorkruis het ná ’n funksie.

Grootetjie, van Donkerhoekplaas, laat sy vrou Wilma, seun Junathan (2), moeder en broer. Die tuisdiens is Saterdag om 09:00 en oom 10:00 in die Ou Apostoliese kerk, Simondium.

* ’n Tienermeisie is in ’n koma ná ’n botsing in die Paarl Sondagoggend.

Janice Adams (19) van Lilacstraat, Groenheuwel, was om 05:00 saam met ’n vriend, Randall Smit van Wellington, op pad huis toe, toe hulle in ’n botsing met ’n ander voertuig by Spilo verkeerslig in Oos-Boschstraat was.

Vyf ander insittendes is deur ambulanspersoneel behandel en na die Paarl Hospitaal geneem.

Janice, ’n oud-leerling van Klein Nederburg Sekondêr, is met skedelbreuk in die waakeenheid van die Tygerberg Hospitaal opgeneem.

“Ons kind het baie gebed nodig,” het haar ma Jeanette van langs haar dogter se hospitaalbed gesê.

* A grandmother has died saving her grandchild’s life during a car accident in Paarl. She was one of ten local inhabitants who died violently at the weekend.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za