Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


'n Juffrou met skop.

'n Juffrou met skop.
 
2007-12-13


OE, moenie vir Juffrou kwaad maak nie, sy gee jou sommer ’n karateskop.”

So word elke nou en dan deur die jongspan van die Grondslagfase van Hugenote Laerskool gefluister wanneer Theresa Gouws by hulle diens doen.

Nie dat dit ooit sal gebeur nie, lag Theresa, ’n vriendelike onderwysassistent wat as deel van haar BEd studies (Grondslagfase) deur UNISA by Laerskool Hugenote indiensopleiding kry. Daarvoor is sy darem net te lief vir kinders.

En buitendien, ’n karateskop hou ’n mens vir die karatemat.

Theresa, wat onlangs haar Tweede Dan swartgordel behaal het, was al ’n paar keer Suid-Afrikaanse kampioen in die Goju Ryu Karate-styl, wat sy beoefen.

Sy beskryf dit as een van die meer tradisionele style binne karate: “Goju Ryu beteken sag en hard.”

Hierdie innemende 23-jarige het onlangs weer ’n goue medalje by die SA Karatekampioenskappe in die vroue seni­or-­afdeling gewen, en is gekeur om volgende jaar na Japan te reis om in Okinawa aan die jaarlikse byeenkoms van Goyu Ryu karateka deel te neem.

Daar sal hulle intensiewe opleiding onder die vleuels van die grootmeester van Goyu Ryu, Morio Higoanna, kry. Tans samel sy en tien ander karateka van die Paarlse klub geld in om hierdie verrykende reis moontlik te maak.

Dié donkerkop van Prins Albert, wat aan Hoërskool Zwartberg gematrikuleer het, kom uit ’n familie van karateka.

Ousus Anchen het ook ’n swart gordel,

Andrea is ’n junior swartgordel en kleinsus Eloïse het al haar blou gordel verwerf.

Alhoewel sy nie meer aktief by die sportsoort betrokke is nie, het haar ma, Louise, op haar dag ook ’n blou gordel verwerf.

Theresa se pa en oom bedryf albei karateklubs en het ook swartgordels verwerf. Dit is juis by haar oom, Naudé Gouws, se klub in die Paarl waar sy al die fynere kunsies van haar sportsoort leer, en gedissiplineerd en gefokus oefen.

Sy beoefen karate al vir sestien jaar lank.

Theresa sê dis veral die dissipline wat sy deur haar sportsoort geleer het, wat dit vir haar moontlik maak om met sukses gefokus aandag aan haar studies, werk en verpligtinge rondom afrigting by verskillende laerskole te kan gee.

Haar volgende mikpunt is ’n plek in die Suid-Afrikaanse kontingent vir die 2010 Wêreldbyeenkoms, wat dan – soos die meer bekende sokkerstryd – in Suid-Afrika aangebied gaan word.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za