DIT is met die uiterste misnoeë dat ’n mens lees van die absolute laakbare optrede van ’n veronderstelde agbare Lid van die Parlement!
Dat Pierre-Jeanne Gerber so geslepe en agterbaks kan optree, spreek vir homself!
Ek besit een van die “kleiner gastehuise”, maar is nie te vrekkerig om by die Toerismevereniging aan te sluit en ’n fooi vir hul dienste te betaal nie.
Hierdie aksie is niks anders as uiterste opportunisme nie. Sy vrees dat die buro dalk nie meer sou omsien na die kleiner gastehuise wat nie lid is nie, is eerder ’n vrees dat sy eie party se beleid van generiese bemarking eerder die struikelblok was!
Ek stem saam dat niemand eksklusiewe reg op die naam “Wellington” het nie, maar die naam “Wellington Toerisme” het allermins verdwyn. Die kenteken staan lewensgroot op die perseel. Hierdie skuif was berekend met die oog op persoonlike gewin en ’n miskenning van ander eerbare mense se reg om ook uit toerisme ’n eerlike inkomste te verdien.
Ons sal graag sy volgende skuif wil dophou! Sou hy die eerbare uitweg kies en sy BK deregistreer en vir Telkom opdrag gee om sy inskrywing volgende jaar te verwyder uit die foongids, of hoop hy maar alles sal oorwaai en hy kan voortgaan om die room af te skep!
Nou verstaan ’n mens waarom daar so min vertroue in openbare figure is.
Gastehuis-eienaar