VERKOPE van die nuwe Paarlse ontwikkeling, The Vines, het weer eens bewys dat die regte produk, die regte ligging, die regte belegging en die regte medium die ideale bemarkingsresep is.
Altesame 25 van die 42 eenhede van The Vines is binne enkele dae verkoop nadat die projek verlede week geloods is.
“Ons is ingenome met die verkope en die totale bemarkingspoging. Die feit dat dit ’n skitterende belegging is, maak dit ook makliker om die eenhede te verkoop, “sê Johannes Barnard, besturende direkteur van A-Property Sales.
The Vines word deur Aslo Holdings ontwikkel en deur A-Property Sales bemark.
Die eenhede sluit in eenmanwoonstelle van sowat 30 vk m en een- tot tweeslaapkamerwoonstelle tussen 35 vk meter en 50 vk meter.
Pryse wissel van sowat R450 000 tot sowat R800 000.
Die gebou van drie verdiepings is net agter ‘n karaktervolle Hoofstraathuis in Noorder-Paarl.
Die huis, wat oorspronklik in ’n Victoriaanse styl gebou is, word gerestoureer om die karakter van die Hoofstraat te behou. Bome en landskapstuine word aangelê met spesiale braaigeriewe vir inwoners.
Die eenhede is ontwerp om die uitsigte op die Drakensteinberge, Paarlberg en die Paarlse wingerde ten volle te benut.
Elke eenheid het ook regstreekse sekuriteitstoegang tot parkeerplekke.