DIE komedie “Sophia Mentz beredder haar boedel” deur PG du Plessis, word van 18 tot 22 Desember by Oude Libertas Amfiteater op Stellenbosch opgevoer.
Sandra Prinsloo doen die regie, met Annelisa Weiland, Eric Nobbs, Helene Truter, Henrietta Gryffenberg, Pierre Bryetenbach en Karen Wessels.
Die Mentze benader die lewe ná die dood met groot bygeloof en vrees.
Voorts is die Mentze veroordelend en inhalig, die een gun die ander niks en dis ’n voortdurende skynheiligheid, geskinder en geloer.
Nie een van hulle het Sophia se drumpel juis deurgetrap tydens haar laaste aardse dae nie, want sy het immers haar fortuin gemaak uit ’n sosiaal minder aanvaarbare praktyk.
Miskien daarom dat Sophia die hele spul bymekaar laat kom vir die lees van haar testament.
Maar soos Sophia sê, “Ek is dood, nie mal nie”, en gevolglik besluit sy om liewer self ook teenwoordig te wees by die lesery.
So wag sy hulle dan in, in die ou plaasopstal se stowwerige voorhuis, waar hulle kan opklim teen die leer na die solder toe, boontoe, testament toe of hemel toe?
Vir navrae en besprekings vir hierdie komedie, skakel 021-809-7473.