Plakkers gaan verhuis uit Drommedarisstraat
2005-03-09
Susan Botha
PAARLIETE hoef nie te vrees dat die Wes-Kaapse regering ’n klomp huislose mense Drakenstein toe gaan skuif nie.
Volgens ’n koerantberig in ’n dagblad op Vrydag 25 Februarie sou Marius Fransman, Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, gesê het dat inwoners van die Joe Slovo-plakkerskamp tydelik in die Paarl en Grabouw gevestig gaan word.
Drakenstein burgemeester Herman Bailey het soos volg gereageer: “Ek het met mnr Fransman gepraat en hy het gesê dat hy verkeerd aangehaal is.
“Hy het wel gesê daar bestaan ’n geneigdheid by plakkers om hulle in die Paarl en Grabouw te wil vestig.
“Tans is die genoemde gebiede prioriteits-areas vir sy departement.”
Die burgemeester het ook goeie nuus oor die informele huise in Drommedarisstraat, Mbekweni.
“Die verskuiwing van die inwoners van Drommedarisstraat het nou ’n werklikheid geword,” het hy gesê op navraag deur die Paarl Post.
“Dit blyk dat die Wes-Kaapse Departement van Behuising die bedrag van R19 384 129 aan die Munisipaliteit Drakenstein beskikbaar gemaak het vir die hervestiging van die Drommedarisstraat-inwoners.”
Bailey het gesê erwe 584 en 13259 suid van Mbekweni is vir dié doel geïdentifiseer. Dit is die ou waterblommetjiedamme tussen die Daljosafat nywerheidsgebied en Mbekweni, wes van die Jan van Riebeeck-verbypad.
“Werk aan die huise op die 43 hektaar grond sal aanstons begin en nagenoeg 2000 gesinne sal geakkommodeer kan word..
“Erwe sal van interne dienste voorsien word en beskikbare behuisingsubsidies sal vir die oprigting van wooneenhede aangewend kan word.”
* Mbekweni residents squatting between the railway line and Drommedaris Street are to be moved to a site north of the industrial area of Paarl.
More
News
|