Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Drie sterf in gru-ongeluk

Drie sterf in gru-ongeluk
 
2007-12-13

Lise Beyers

DIE Feesseisoen het ’n tragiese begin gehad toe drie mense Sondagoggend in ’n gru-ongeluk gesterf het.

Twee van die slagoffers is op slag dood tydens die ongeluk in Agter-Paarl. Nog ’n insittende het later in die hospitaal beswyk.

Die botsing tussen die motor en ’n vragmotor het omstreeks 05:30 op die Durbanvillepad plaasgevind, sowat 3km vanaf die T-aansluiting met die R44.

Volgens die vragmotorbestuurder het hy in die rigting van die Paarl gery toe ’n motor oënskynlik buite beheer op die vragmotor afgepyl het.

Toe hy regs geswaai het om die motor te probeer vermy, het die voertuig van die kant in hom vasgery.

Daar word vermoed dat ’n band van die motor gebars het, want voor die impakslag is stukke van ’n band gesien.

Die vier insittendes is uit die voertuig geslinger.

Twee beseerdes is na Tygerberg Hospitaal geneem, maar een van hulle het kort daarna aan sy beserings gesterf.

Die enigste oorlewende en ook eienaar van die voertuig, Richard Matokazi (41) van Mbekweni, verkeer tans in ’n bevredigende toestand.

Hy het in ’n verklaring gesê dat hy en ’n familielid, Henry October, vroeg Sondagoggend gery het om vir October by sy familie in die Durbanville-gebied te gaan aflaai.

Volgens Matokazi het October die voertuig bestuur, want hy was te moeg. Hy het bygevoeg dat hy aan die slaap geraak het en eers weer in die hospitaal wakker geskrik.

Hy is onbewus van die man en vrou wat agter in die motor gesit het en hy vermoed dat October onderweg gestop het en vir hulle ’n geleentheid gebied het.

Dié twee slagoffers is eers eergister uitgeken as Rosetta Adams en Marius Rademeyer van Leeukuil-plaas. Die plaas is nie ver van waar die ongeluk plaasgevind het nie.

* Verlede Woensdagmiddag is agt mense beseer toe twee bakkies in mekaar vasgery het op Langenhovenweg in die Paarl. Volgens ooggetuies het een bakkie vanuit Klein Parysweg in Langenhovenweg ingedraai en voor ’n aankomende bakkie beland.

Die bakkie wat getref is, het teen ’n muur van ’n woning op die hoek van Mullerstraat te lande gekom. Die ander bakkie het op sy sy beland.

Verskeie mense is uit die voertuie geslinger, maar het slegs ligte besering opgedoen.

Mense wat woonagtig is in dié gebied van Langenhovenweg het op die toneel hul ontevredenheid uitgespreek oor die talle ongelukke wat hiér plaasvind.

“Te veel motoriste gebruik Langenhovenweg as ’n deurgang tot die N1. Hierdie gebied is ’n woonbuurt en daar is kinders wat op hul fietse ry en elke paar weke is hier ’n ongeluk.

“Sulke ongelukke is dan hoofsaaklik te wyte aan spoed en op dié spesifieke kruising behoort daar ’n verkeerslig aangebring te word, maar die munisipaliteit luister nie na ons geskrewe versoeke nie.”

* Three people have died in a horror crash in Agter Paarl.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za