DIE eerste span van McCarthy Toyota Wellington Krieketklub het onlangs deurgedring tot die finaal van die Boland Premierliga se 60-beurt kompetisie waar hulle ongelukkig met 32 lopies die knie teen Brackenfell moes buig by Daljosafat-stadion.
Die span van Brackenfell se kolfbeurt het redelik goed gehou teen die boulaanval van die Wellingtonners.
’n Voortreflik beurt deur Wimpie Louw (129*) het Brackenfell in ’n gunstige posisie geplaas met hul telling op 277/6.
Hy is goed bygestaan deur Cliffie Prinsloo (46) en Ricki Lessing (44),
Wellington se kolfbeurt was goed op dreef om die gevraagde lopietempo na te jaag.
Die kaptein, Christi Schreuder (77, 3x4 en 1x6), Christo Ritter (35, 2x4) en Albert van der Merwe (32, 5x4) het goeie pogings aangewend om Wellington se kop bo water te hou, maar ’n tekort aan boulbeurte en paaltjies het hulle uiteindelik gekelder.
Wellington kon in hul toegelate 60 beurte slegs 245/9 aanteken om die wedstryd met elf bonuspunte teen nege te verloor.