DIE McCarthy Toyota Wellington Krieketklub het die afgelope naweek vir Malmesbury verniel met agt paaltjies by die Pen Basson-veld.
Die besoekers is ingestuur om eerste te gaan kolf en het uit die staanspoor gesukkel om vastrapplek te kry teen Wellington se vernietigende boulaanval.
Craig Meyer (57*) was die enigste kolwer van Malmesbury wat die aanvallende boulers op hul tone gehad het.
Greg Jardin (3/16), Ashwill de Vries (3/28) en Albert van der Merwe het die paaltjies vir Wellington ingepalm om hul teenstanders sodoende tot 128 te beperk.
Die tuisspan se kolwers het minder moeite gehad om hul ritme te vind en die teikentelling met groot gemak nagejaag.
Theuns Stoffberg (50*), Pieter Bergh (36) en Warren Groeneveldt (24) het ’n groot rol gespeel om die oorwinning vir Wellington (130/2) te verseker.