DIE eerste span van Paarl Krieketklub het die afgelope naweek tydens ’n plaaslike derby teen GMT Paarl-Oos by die New Orleans-velde geseëvier.
Paarl het die loot gewen en besluit om eerste te gaan kolf op ‘n blad wat veronderstel was om in die hande van die kolwers te speel.
Hul openingskolwers het uitstekend gevaar om ’n stewige grondslag te lê met die eerste paaltjie wat gekantel het met die telling op 102.
Die oorblywende kolflys het egter gesukkel om die harde werk voort te sit met Alfredo Adams (85, 8x4 en 2x6) en T Botes (23, 1x4) wat uiteindelik die grootste bydraes gelewer het.
Paarl-Oos se Hubert Ontong (3/27), Zynodene Fredericks (2/40) en Dennis November (2/54) het die omstandighede goed in hul guns laat tel om sodoende die lopietempo te beperk.
Paarl-Oos se kolfbeurt het ook goed begin, maar was nie opgewasse om die Paarlse boulers op hul plek te sit nie.
Kurt Julius (73, 6x4), Randall George (29, 1x4) en Waylon September (24, 1x4) het die meeste lopies vir Paarl-Oos aangeteken terwyl L Fredericks (4/33) en Lynal Jansen van (2/18) van Paarl met akkurate boulwerk hul teenstanders laat vou het.
By die Parys-velde het Paarl II ook sukses behaal nadat hulle Paarl-Oos met twee paaltjies geklop het.
Paarl-Oos het eerste gaan kolf en is almal vir slegs 156 lopies uitgehaal.
Garth Lewis (48, 2x4 en 5x6) en Dane Schoor (31, 4x4) het sterk gestaan om Paarl-Oos in die wedstryd te hou, maar Paarl se Rowan Goetham (4/10), G Adams (3/21) en Denver van Reenen (2/21) het hul teenstanders se kolflys onder geweldige druk geplaas.
Paarl het tydens hulle beurt ook effens kleigetrap met die standaard van boulwerk wat op die dag aansienlik hoog was.
’n Welverdiende vyftigtal deur R Groenewald (50, 7x4 en 3x6) het Paarl gehelp om in die 44ste beurt die wenlopies aan te teken.
Paarl-Oos se beste boulers was die jong Jade Adams (3/31) en Garth Lewis (2/24).
* Hierdie was die laaste kragmeting van die jaar vir al die spanne. Die seisoen word 12 Januarie hervat.