DIE Young Peoples Krieketklub (Tiere) het verlede Saterdag by Daljosafat-stadion die eerste helfte van hul seisoen op ’n hoë noot afgesluit nadat hulle Worcester United met 37 lopies geklop het.
Die besoekers het die loot gewen en die Tiere ingestuur om te kolf.
Hershille Barron (69, 5x4), Dominic Daniels (27, 4x4 en 1x6) en Shaun Cutting (20, 1x4) het die tuisspan tot 212 geneem in hul toegelate 45 beurte.
Young Peoples se boulers het Worcester van meet af onder druk geplaas, en die besoekers vir 175 uitgehaal.
Chalton Daniels (3/33), Brendon Adams (3/33) en Marshall Lategan (2/17) was die Tiere se beste boulers.
Die tweede span van Young Peoples het tydens hul wegwedstryd redelik maklik met Worcester afgereken.
Die Tiere se Gershwin Philander (66, 6x4), Wade October, (40, 5x4 en 1x6) en James de Wet (34, 5x4) het gesorg vir ’n respektabele telling van 204/8.
Die boulers van Young Peoples het kleingeld van hul opposisie gemaak en Worcester vir slegs 95 lopies uitgeboul.
Ricardo Davey (3/25), Ryan Davids (3/26) en Jarrier Alexander (2/33) het vir die Tiere uitgeblink met die bal.
* Young Peoples Krieketklub beplan ’n familiedag Sondag by Daljosafat-stadion en almal word uitgenooi om die dag by te woon. Die Tiere se rugby- en krieketspanne gaan teen mekaar kragte meet tydens ’n ses-aan-’n-kant kriekettoernooi. Daar sal wedstryde vir vroue en veterane ook plaasvind.
Die verrigting sal reeds om 10:00 begin met etes wat te koop aangebied sal word.