EEN van die bekendste ou geboue in die Paarlse Hoofstraat, nommer 219 op die hoek van Patriotstraat, het pas ‘n gedaanteverwisseling ondergaan.
Die vooraansig het ‘n nuwe winkelfront gekry in die Edwardiaanse styl van die vroeg twintigste eeu.
‘n Ou foto deur die Paarlse fotograaf James Gribble geneem, het aanleiding gegee tot die verandering.
Volgens die eienaar, Hannarie Wenhold, het verskeie foto’s van Gribble waarop die gebou sigbaar is, behoue gebly by die Drakensteinse Heemkring.
Dit was dus moontlik om ‘n histories juiste restourasie te onderneem aan die hand van ‘n foto van ongeveer 1910 toe WH Matthee ‘n snyersonderneming en mansuitrusters in die gebou bedryf het.
Wanneer die winkel vroeg volgende jaar omtrent honderd jaar later weer open, sal dit hierdie keer ‘n roomyskroeg wees waar Paarliete en besoekers aan die dorp egte Italiaanse-styl roomys van natuurlike produkte gemaak, sal kan geniet.
Die gebou is by die ouer geslag Paarliete bekend as die Zuidmeerhuis, na aanleiding van Agnes Zuidmeer en haar dogter, Elsa, wat vir bykans 25 jaar ‘n kleuterskool daar gehad het, destyds bekend as die Lyndale Infant School.
Dié deel van die gebou met sy aantreklike erker word ook te huur aangebied.
Enigeen wat nog meer weet van die ou gebou, waar daar in die jare twintig ook ’n tandartspraktyk was, of dalk ’n foto het uit die kleuterskooltydperk, kan met Hannarie Wenhold in verbinding tree by 082-7793-190.