DIE Trans Agulhas-uitdaging skop 28 Desember in Plettenbergbaai af met die eerste been van die węreld se taaiste rubberbootwedren.
Die Paarl en Wellington sal hierdie jaar goed verteenwoordig word met verskeie spanne wat vir hierdie resies gekwalifiseer het.
Buiten Steyn Basson en Jan Kriel (Team Agriwire, Wellington) is die spanne van Francois Heins/Theo Rischbieter (GM Thorp/Hortons, Paarl), Jacques Groenewald/Adriaan van Wijk (Zing/Slabbert Burger, Wellington), Andre le Roux/Niclaas de Villiers (WFP, Wellington) en JD de Villiers/Dirk Crafford (Africa Sanitation, Wellington) slaggereed vir hierdie uitmergelende uitdaging.
”Dit is vyf moordende dae ter see,” verduidelik Francois Heins, wat alreeds vyf Trans Agulhas wedrenne agter sy naam het.
”Jy moet nie net fisies voorbereid wees nie, maar ook sielkundig.
”Hierdie resies daag elke span uit om harder te werk as ooit tevore.
“Dit is werklik een van die strafste kompetisies waaraan enige atleet kan deelneem.”
Die eerste skof van die Trans Agulhas eindig in Mosselbaai waarna die deelnemers die volgende been tot by Stilbaai moet aandurf.
Die roete word dan gevolg tot by Struisbaai en Gansbaai vir die derde en vierde skofte onderskeidelik.
Alle skofte begin om 08:00 terwyl die finale been vanaf Hermanus (om 09:00) tot by die Strand strek.
Branderhindernisse sal ook ná elke skof (13:00) by die betrokke strande plaasvind waar die deelnemers se talent en vernuf tot die uiterste beproef sal word.