OP 4 Desember 2007 is daar ’n inligtingstuk oor die Bergwaterprojek in die drie tale wat hoofsaaklik in die streek gepraat word, Afrikaans, Engels en Isi Xhosa in die plaaslike koerant, Paarl Post gepubliseer.
Die Afrikaanse vertaling daarvan het nie aan die vereiste taalstandaarde voldoen nie.
Ons vra om verskoning hiervoor, veral teenoor die Afrikaanssprekende publiek.
Die Trans-Caledon Tunnel Authority (TCTA) bedank graag die lesers wat dit onder ons aandag gebring het en gee die versekering dat ekstra sorg geneem sal word om ’n soortgelyke situasie in die toekoms te voorkom.
TCTA, wat verantwoordelik is vir die konstruksie van die R1,5 biljoen Bergwaterprojek, het nog voordat konstruksie sowat vyf jaar gelede begin het, onderneem dat die plaaslike gemeenskap deel van die proses sal wees.
Dit is beide wat indiensneming en kommunikasie betref.
Projekvordering is dus deurentyd deur middel van verskeie kanale soos ’n inligtingskantoor op die terrein en nuusvrystellings gekommunikeer.
Hierdie kommunikasie is in noue samewerking met die TCTA se vennote in die projek, Stad Kaapstad en die Departement van Waterwese en Bosbou, gedoen.
Die Bergwaterdam, die grootste deel van die Bergwaterprojek, wat die voorsiening van water aan Kaapstad met 18 persent sal aanvul, is nou 50 persent vol nadat daar vroeër vanjaar begin is om water op te gaar.
Martie Janse van Rensburg Hoof Uitvoerende Beampte, TCTA (Trans-Caledon Tunnel Authority)