Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


’n Terugblik op die jaar - 2007

’n Terugblik op die jaar - 2007
 
2007-12-20

Lise Beyers

NOG ’n jaar het gekom en gegaan en vir dié van ons wat ouer raak, het dit skaars soos ‘n paar maande gevoel wat verby gevlieg het.

Die gebied is geseën met ’n uitstekende koue, nat winter wat groot verligting bring vir beide boer en verbruiker. Nou sien ons weer kans vir die versengende hitte wat seer sekerlik in Januarie en Februarie vir ons sal tref.

Die jaarlikse misdaadverslag wat landwyd uitgereik is, het getoon dat misdaad hiér in die geheel gedaal het.

Maar steeds was verskeie mense geteister deur huisbrake en diefstal van, of vanuit, motorvoertuie.

Die kenmerkendste geweld wat gepleeg was, was oor naweke wanneer drank- en dwelmmisbruik die hoogtes inskiet.

Die kommerwekkende kwessie van die monster dwelm, Tik, is dikwels bespreek, maar steeds is ’n oplossing duister.

Dit is wel ’n voldonge feit dat Drakenstein se jeug lelik mislei word deur dié dwelm, en weens skuiwergate in die wet, kom dwelmhandelaars keer op keer terug op straat indien hulle in hegtenis geneem word.

Die gebruik van Tik word blameer vir talle misdade wat gepleeg word.

Die jaar 2007 het afgeskop met twee verdrinkings op dieselfde dag in die Bergrivier. Vrae het toe ontstaan oor die tekort aan beveiliging van die rivier.

Op die een verdrinkingstoneel het munisipale bestuurder Sidema Kabanyane, sy kommer hieroor uitgespreek. Daar is egter niks gedoen rondom dié kwessie nie.

In die middel van die parsseisoen moes talle wynboere skarrel om wynvate te bekom, nadat ’n vragskip met honderde vate aan boord wat bestem was vir dié gebied, gestrand het aan die kus van Engeland.

Seker die skokkendste en opspraakwekkendste gebeurtenis van die jaar was die terreurspel waartydens ’n polisiebeampte, konstabel Carl Scharnick, eers sy vrou, Mesadie, en toe haar pa, Tom Meyer, geskiet het.

Tom se vrou, en bekende DA-raadslid, Clera Meyer, is tydens die aanval drie keer geskiet, maar het die voorval oorleef. Scharnick het hierna die vuurwapen op homself gerig en homself in die kop geskiet.

Die flambojante sakeman, Arthur Brown van Fidentia, wat soveel hoop in ons Boland Kavaliers geblaas het toe sy maatskappy, Fidentia, vir hulle begin borg het, het getoon dat hy eintlik ’n perd van ’n ander kleur is.

Fidentia is in kuratorskap geplaas, en so het hul beloofde R15miljoen borgskap ook gesink.

Hierna het die Kavaliers ’n uiters onseker toekoms in die gesig gestaar en die bestuur moes noodgedwonge van die spelers se kontrakte beëindig.

Die span het wel terugbaklei en het ‘n plek losgespeel in die Curriebeker reeks.

Alhoewel hulle die seisoen goed begin het, het hulle egter lelik gevou teen die einde. ’n Mens kan nie help om te wonder of die hele Fidentia debakel op die ou einde sy tol begin eis het onder die span nie.

Veiligheid in die Paarl middedorp het weer ter sprake gekom toe ’n bekende bejaarde sakevrou, Rita (Rottang) du Plessis (83), wreed in haar winkel in Versterstraat helder oordag aangeval is.

Later die jaar het die munisipaliteit uiteindelik hul lank beloofde skenking van R250 000 aan die middedorp gemeenskapspolisiëëringsforum oorhandig vir die aankoop van nog sekuriteitskameras.

Al die kameras in die dorp sal nou gekoppel wees aan die Paarl polisiekantoor waar die bedrywighede in die middedorp fyn dopgehou word.

Alles was nie pluis in die gange van die Drakenstein Munisipaliteit nie, nadat die wittebrood tussen die ID en die ANC op die rotse geloop het.

Die verleidende ID het egter ’n verhouding met die DA aangekoop, wat uiteindelik gelei het tot ’n koalisie tussen die twee.

Hierdie liefdesverhouding het egter ook skipbreuk gelei toe die meerderheid van die ID-raadslede oorgestap het na die ANC.

Dit het die ANC teruggeplaas in beheer, wat tot dusver meer binnegevegte in die raad veroorsaak het, en sodoende dienslewering meer skade berokken het.

Daar word ook steeds wyd bespiegel oor hoeveel duisende rande tussen die ANC en die ID hande verruil het om vir hulle weer aan die stuur te kry.

’n Vragmotorbestuurder, Michael Tukwayo, het tragies gesterf toe ’n klip deur sy voorruit gebars het en vir hom teen die bors getref het.

Twee tienerseuns van De Zoete Inval is van moord aangekla nadat dit vasgestel is dat hulle die klip vanaf die De Zoete Invalbrug geslinger het.

Na ’n pleitooreenkoms is die klag gewysig na dié van strafbare manslag en hulle is elkeen tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat vir vyf jaar opgeskort is.

’n Reeks bomdreigemente het die gebied laat steier deur etlike vertragings by treinstasies, asook by besighede en selfs skole.

’n Leerder van Boland Landbouskool het ’n nag in die polisieselle deurgebring, nadat die skool ontruim is weens ‘n bomdreigement.

Daar is egter vasgestel dat hierdie ’n eenmalige oproep deur die seun was, en die eintlike skuldige wat die Paarl op hol gehad het met dreigemente, is steeds op vrye voet.

’n Gewilde Paarlse polisieman, sersant André Notnhagel is in Guguletu vermoor terwyl hy van diens af ’n broodlorrie begelei het tydens ‘n staking.

’n Boer van Wellington, Johan Steyn, het derduisende rande se skade gelei nadat rondloperhonde ’n trop skape aangeval het. Sowat 100 lammers is gebyt en hulle moes van kant gemaak word. Die honde is opgespoor en geskiet.

Die Paarlse Hoofstraat het weereens die lewens van verskeie jongmense geëis weens motorongelukke.

Jean-Pierre du Toit (19) van die Paarl is dood toe die bakkie waarin hy en sy broer gery het, teen ‘n paal gebots het by die Toringkerk-saal en daarna gerol het.

Twee weke later, slegs etlike meters van dié ongelukstoneel, is Alucia Malan (23) van Denneburg dood toe haar blink rooi BMW teen ’n pilaar van ’n winkel gebots het.

In Oktober het Oliver Fortuin (22), enigste seun van die bekende Paarlse regsgeleerdes Lloyd en Chantal Fortuin, in ’n motorongeluk in die Hoofstraat, Suider-Paarl gesterf.

’n Bejaarde vrou is ‘n Saterdagoggend in Lady Greystraat dood, toe ’n bestuurder beheer oor sy motor verloor het, en deur Dischem se vertoonvenster gebars het.

Verskeie mense is beseer, maar Ria Theron (76) van die Paarl het aan haar beserings gesterf.

Brande het weereens, winter en somer, veral in informele woongebiede tot sterftes van kinders en hul ouers gelei. Die oorsake bly in die meeste gevalle steeds armoede wat daartoe lei dat oop vlamme soos kerse en paraffienstowe gebruik moet word vir lig en kosmaak.

’n Tiener het tragies gesterf toe hy sowat 20 meter ver geval het vanaf Paarlrots. Lourens Dahms (17) het kort voor die ongeluk met sy meisie gestry.

Gimnasium het vir die vierde jaar in ’n ry koning gekraai tydens die jaarlikse Interskole kragmeting teen Boishaai. Daar word egter bespiegel dat met die nuwe skoolhoof, Derek Swart, aan stuur, gaan die Boishaaiers reggeruk word vir volgende jaar se Interskole.

Die jaar 2007 het die voltooiing van die langverwagte Bergrivier Dam gesien, maar ongelukkig word ons water opgegaar vir die Kapenaars en nie vir dié gebied nie.

En ’n uiterste goeie reënseisoen het veroorsaak dat die water sommer vinnig in die dam begin opgaar het.

Nog ’n liefdestragedie het die vallei geruk toe die waarnemende balju van Wellington, Johan Strauss, aangekla is vir die mesdood van sy vervreemde vrou.

Minette Strauss is aangeval buite ’n skool in Durbanville waar sy op haar seun gewag het. Johan het van die toneel gevlug en in ’n selfmoordpoging sy motor van Bainskloof afgery.

Na etlike ure van onderhandelinge met die polisie is hy in hegtenis geneem vir die moord op sy vrou.

Wamakersvallei wynkelder op Wellington het vanjaar behoorlik geseëvier, nadat hul 2007 gehoute Pinotage aangewys is as die beste jong rooiwyn in Suid-Afrika. Hiermee het hulle weggestap met die gesogte Generaal Smuts-trofee, die hoogste eer wat ‘n jongwyn kan ontvang.

En Paarl Post het weereens weggeloop met die louere as die beste gemeenskapskoerant in die land, nadat die koerant die Cronwright trofee ontvang het.

Ons sal voortgaan om tot die uiterstes te gaan om aktuele nuus van dwars oor die hele Drakenstein-gebied te lewer, vir ál die inwoners.

En so is nog ’n jaar geskiedenis, net om plek te maak vir die toekoms.

* Another year has come and gone and once again it was highlighted with various saddening memories. But the good rains which were experienced throughout the area will be remembered, after previous dry years.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za