NOG ’n persoon het verlede week ’n slagoffer geword van skobbejakke in die Arboretum.
Die bekende Paarliet Wiwe Pretorius, het verlede Maandag saam met ’n vriendin helder oordag tussen die bome gestap met haar hond.
“Ons wou veral gaan kyk het hoe pragtig blom die magnolias.
“Ek is bewus van die gevare van die Aboretum en ons het in die oop gebiede gebly wat ons gedink het is veiliger.
“Ons was op pad terug na die voetoorgangsbrug, en kort voordat ons daar gekom het, het iemand my skielik van agter af gegryp en vasgehou.
“Eers het ek gedink dat dit iemand was wat ek ken wat ’n poets op my bak, want dit was nie ’n aggressiewe greep nie.
“Maar toe ruk hy my lyfbeursie met soveel geweld af dat ek neergeval het op my heup wat onlangs geopereer is.
“Twee tienerseuns het vinnig die hasepad gekies.
“Alhoewel ek nie geld in die sak gehad het nie, was my selfoon daarin, asook waardevolle persoonlike dokumente wat vir my uiters belangrik is.”
Hierdie boomryke juweel aan die oewer van die Bergrivier in die Paarl, het deur die jare berug geword vir soortgelyke en meer geweldadige aanvalle.
In Junie het ’n bejaarde man ’n mesaanval hier oorleef, toe sy bokserhond ’n messwaaiende aanvaller verwilder het.
Verlede jaar is ’n 86-jarige Britse toeris ook hier aangeval met ’n mes.
Pretorius het gesê dat sy woedend is na die gebeurtenis en verwag nou antwoorde van die munisipaliteit oor hoekom hulle nie iets doen oor die beveiliging van die Arboretum nie.
* Another person has been attacked in the Arboretum in Paarl, causing concern for safety of strollers.