Bekende se plase opgeveil
2010-08-26
VYF tafeldruif-plase, almal die eiendom van die bekende Noorder-Paarlse boer Freddie Kirsten, is op 26 Augustus opgeveil. Die plase Vredenhof, Bellevue, Eureka, Oewersig, asook die kleinhoewe Carisbrooke, was onder die hamer van afslaer Michael James maar geen bod is toegeslaan nie, weens lae pryse. Die plase, wat al vir generasies in die familie is, beslaan altesame 228 hektaar en huisves ’n totaal van 55 werkersgesinne. Die historiese familieplaas Vredenhof van 27 hektaar is geleë aan die voet van Paarlberg in Hoofstraat en spog met ’n unieke Kaapse platdak-woning in die Franse styl, wat dateer uit 1790 (een van slegs twee van sy soort in Suid-Afrika). Dit is tans die woning van die eienaar. Die gebou van 800 vk meter word beskou as geskik vir ’n boetiek-hotel of eksklusiewe herelandgoed en kan afsonderlik van die plaas gekoop word. Daar is ses werkershuise. Eureka (75 hektaar) en die aangrensende Carisbrook (8 hektaar) word afsonderlik en daarna gesamentlik opgeveil. Daar is 17 werkershuise op Eureka asook ’n woonhuis en groot pakstoor. Oewersig beslaan 28 hektaar en spog met 20 hektaar wingerd vir uitvoertafeldruiwe, asook hoenderhokke met 20 000 koue, ’n pakstoor, twee woonhuise en 14 werkershuise. Bellevue is 94 hektaar onder 12 hektaar olyfbome en nege hektaar wingerde, asook hoenderhokke met 70 000 koue. Daar is twee woonhuise, ’n pakstoor en 18 werkershuise. Die hoogste bod was R8 miljoen vir Vredenhof, met R5 miljoen aangebied vir Bellevue.
More
News
|