Woonstelmark wil-wil wakker word
2011-02-01
Sieb Sieberhagen
ALHOEWEL daar nasionaal ’n effense oplewing in die woonstel-huurmark is, is hierdie tendens nóg nie juis merkbaar in Drakenstein nie. Kundiges is van mening dat dit nog jare gaan duur voordat inkomste-opbrengste weer op koers sal wees in die woonstel-huurmark. Eiendomsagente in Drakenstein sê daar is glad nie ’n oplewing in die woonstelmark soos wat tans met die huismark ondervind word nie. “Beleggers soek maar nog steeds ’n winskoop om dit dan uit te verhuur. En kopers bly kieskeurig, want hulle wil graag die beste huurinkomste uit hulle belegging hê,” sê Surina du Toit, bestuurder van Pam Golding Eiendomme in die Paarl en Wellington. “Volgens ons ervaring is daar in sekere blokke baie eienaars wat daar woon, maar dit is maar soos altyd ’n kombinasie van huurders en eienaars. Baie woonstelle wat beskikbaar word in die Paarl is ook nuut met mooi afwerkings,” sê sy. Agente meen wel dat die baie navrae oor woonstelle die eerste teken is dat daar wel ’n oplewing is. “Daar is ’n besliste oplewing in die woonstelmark. Dit is ’n mark wat eerste seergekry het met die resessie en pryse het fisies gedaal en nie gestagneer soos met die ander eiendomme nie,” sê Heidi de Bruyn van ERA Gersbach. “Die eerste tekens van herstel is die baie navrae van beleggers wat koop om te verhuur. Die kopers is goed ingelig en kieskeurig en kan hul aankope finansier, teenoor eerste kopers wat sukkel met finansiering. Daar is ’n fyn lyn tussen koopprys, maandelikse huurbedrag, bekostigbaarheid, ligging en inkomste van huurders, sê sy. Verhuring bly steeds die belangrikste opsie wanneer dit by woonstelkoop kom, is die mening van Gerda Fouchee van Fouchee Eiendomme. “In vergelyking met ’n jaar gelede het die belangstelling effens toegeneem. Terselfdertyd het die verkopergetal gestyg en gevolglik het kopers ’n groter vergelykende keuse en sodoende verleng dit die periode om ’n oorprysde eiendom te verhandel.” “Beleggers stel meer belang in opbrengs, terwyl kopers wat self daar wil woon, deeglik seker maak dat hul kapitaal volgens hul behoeftes aangewend word. “Kopers is ingelig oor marktendense, realisties en besigtig steeds ’n wye spektrum van eiendom alvorens hulle tot koop oorgaan,” sê sy. Ontleders meen die koop-om-te-verhuur-mark gaan nog jare neem om weer op sy voete te kom. Tans is die gemiddelde netto inkomste-opbrengs wat vir residensiële huureiendomme verkry word, in stedelike gebiede 4,5% van die markwaarde. Dié syfers lyk glad nie goed vir koop-om-te-verhuur-beleggers nie, want tien jaar gelede was die brutosyfer sowat 10%. Beleggers se afwesigheid in die koop-om-te-verhuur-mark word ook weerspieël in Eerste Nasionale Bank (ENB) se agente-navorsingsverslag vir die vierde kwartaal van 2010. In dié kwartaal was die persentasie eiendomme wat gekoop is met die doel om dit te verhuur, ’n skamele 7% van die totale verkope vir die tweede opeenvolgende kwartaal. John Loos, eiendomsontleder van ENB, sê dit is ligjare verwyderd van die geraamde 25% vroeg in 2004.
More
News
|