Skole speel groot rol in Drakenstein se eiendomsmark
2011-02-17
Sieb Sieberhagen
MET van die bekendste hoërskole in Suid-Afrika in die Paarl soos Hoër Jongenskool Paarl, Hoër Meisieskool Paarl, La Rochelle Meisieskool en Hoërskool Gimnasium, is eiendomsagente in Drakenstein dit eens dat gesinne baie maklik hierheen verhuis sodat hulle kinders hier in die Paarl kan skoolgaan.
Een probleem wat wel in die Paarl ondervind word, is dat die verhuringsaanvraag steeds die aanbod oorskry. Baie van die agentskappe het maar net enkele huurhuise beskikbaar.
“Daar is ’n groot aanvraag van veral binnelanders wat hulle hier in die Paarl wil kom vestig om hulle kinders hier te laat skoolgaan.
“Dit gebeur al hoe meer, want met moderne tegnologie, kan baie broodwinners hulle werk van enige plek af doen,” sê Jacques Basson van Caprop Eiendomme en Just Letting in die Paarl.
Daar is genoeg eiendom in die mark, maar uit ’n beleggingsoogpunt, maak dit nog nie vir beleggers sin om te koop nie.
“Huidiglik kry beleggers tussen 4% en 6% huurinkomste op beleggings, wat dit nog nie aanvaarbaar maak nie. Toe die eiendomsmark op sy piek was, het beleggers wat betydes gekoop het, 10% huurinkomste per jaar verdien.
“Dit sal nog ’n paar jaar neem voordat beleggers weer so 8% huurinkomste sal kry.
“Huispryse stabiliseer wel op ’n boonste vlak en met huurinkomste wat elke jaar 6% tot 7% styg, sal daar binne ’n jaar of twee weer goeie beleggingseiendomme in die mark wees,” sê hy.
“Wat wel verblydend is, is dat daar baie meer navrae deur beleggers is. Met die geweldig baie eiendomme in die mark sal daar een van die dae weer baie winskopies wees.
“Gewone kopers is ongelukkig nog nie daar nie. Die banke se kredietbeleid speel ’n beduidende rol en baie verkopers hou vas aan die pryse van drie en vier jaar gelede.
“Huise wat wel verkoopm en waar pryse afwaarts aangepas word, is huise wat dringend verkoop moet word,” sê hy.
Surina du Toit, bestuurder van Pam Golding in die Paarl en Wellington, sê dat die eiendomsmark baie besig is en dat dit ’n kopersmark is.
“Huureiendom is baie skaars en daar is net enkeles op ons boeke. En dit is oor die hele spektrum van die huurmark dat daar ’n tekort is,” sê sy.
’n Woordvoerder van Era Gersbach Eiendomme sê dat hulle ook heelwat navraag kry van gesinne wat hier wil kom bly, sodat hulle kinders hier kan skoolgaan.
“Dit is veral in die huurklas R5 000 tot R8 000 per maand waar daar baie navraag is, maar ongelukkig is sulke eiendomme baie skaars. Ons het redelik baie sulke eiendom op ons boeke, maar daar is net enkeles tans beskikbaar. In die Paarl is daar niks nie en net een in Wellington.
“Baie mense soek ook gemeubileerde eiendom aangesien die ma en die kinders in die week hier bly en dan weer naweke terugkeer van waar hulle kom,” sê sy.
Hanlie de Waal van Hanlie’s Eiendomme sê dat hulle eiendomme verhuur in die prysklas R6 000 tot R12 000 per maand, maar dat die aanvraag baie hoog is.
“Die hoë aanvraag in die huurmark bring ook mee dat huiseienaars baie maklik hulle prys kan vra.
“Baie mense kom vestig hulle hier sodat hulle kinders hier kan skoolgaan. Natuurlik wil baie mense eers vir die interim huurm voordat hulle hier koop.
“Daar is wel ook ’n klein persentasie wat naweekplekke in die Paarl aanskaf,” sê sy.
More
News
|