Alexa skrik nie vir 300 doele nie
2011-08-25
VANJAAR se hoofdogter van Laerskool Gimnasium en hul o.13A-netbalkaptein, Alexa Haasbroek, raak elke dag met netbaloefening maklik 300 doele baas en dan kry sy boonop nog tyd om ook in verskeie ander sportsoorte uit te blink. Sy is Augustus se Let’s Play/Paarl Post sportster. As sy haar prestasies en medaljes wat sy reeds in netbal, hokkie, atletiek, swem, gimnastiek, tweekamp en biathle (hardloop, swem en hardloop) verower het, opgestapel het, is dit seker reeds baie hoër as drie netbalpale. Voeg ’n mens nog haar leierseienskappe op skool- en sportvlak by, is haar drome om eendag vir die Proteas netbal te speel, ook glad nie vergesog nie. Alexa, wat reeds in graad 1 as hulpdoel begin netbal speel het, was vanjaar die o.13-netbalkaptein van haar skoolspan en het ook vir die Wes-Kaap uitgedraf waar haar span ’n silwer medalje huis toe gebring het na afloop van die SA kampioenskappe. Sy is reeds ’n bekende gesig op die Wes-Kaapse netbalbane en was verlede jaar die kaptein van die Wes-Kaapse o.12-netbalspan. Vanjaar het sy ook in hokkie, waar sy as ’n bedrywige middelskakel uitdraf, haar skoene in haar skool se o.13A-span en die Boland B-span(ook as kaptein) volgestaan. Vanaf o.10-vlak verteenwoordig sy ook reeds die Wes-Kaap op die atletiekbaan. Vanjaar het sy die Wes-Kaapspan in die 200 m hekkie-items verteenwoordig. Dan is sy boonop ’n kranige swemmer wat deel is van die Vineyard swemklub. Vanaf o.10 is sy reeds ’n lid van die Wes-Kaapspan en het vanjaar op streekvlak (vlak 2) ’n silwer- medalje en bronsmedalje verower. Haar swemagtergrond maak haar ook ’n gedugte mededinger in tweekamp (1000 m hardloop en 100 m swem) waar sy die Bolandspan sedert o.9-vlak verteenwoordig. In graad 4 (2008) het sy ook vir Suid-Afrika in biathle (hardloop 500 m, swem 50 m en hardloop 500 m) verteenwoordig. Nadat sy tydens die SA kampioenskappe tweede geëindig het en in die SA-span opgeneem is, het sy tydens ’n internasionale kompetisie wat in Kaapstad aangebied is, die vierde plek verower. Haar gunstelingvakke op skool is dans en drama (sy is glo mal oor die dansery), Aardrykskunde en Afrikaans. Daagliks spandeer sy maklik 3 tot 4 uur op die sportveld, maar ’n mens wonder wat sy doen as sy nie daar doenig is nie. “Ek verkies om maar alleen met my eie dinge besig te wees en om te lees. En wanneer ons op Langebaan is, vang ek graag vis saam met my pa,” vertel sy. Sonder twyfel gaan sy volgende jaar vir Hoërskool Gimnasium ’n aanwins wees en sien sy daarna uit om weer met van haar sportvriende wat sy die afgelope paar jaar op Suid-Afrika se sportvelde gemaak het, te herenig. “Baie van my vriende in die Wes-Kaap kom ook volgende jaar Gimnasium toe,” vertel sy.
More
News
|