Boishaai gesels saam met grotes
2011-09-01
ALHOEWEL die eerste rugbyspan van Hoër Jongenskool Paarl nie vanjaar die septer in die interskole kon swaai nie, het hulle weer eens bewys dat hulle met die bestes in Suid-Afrika kan saamgesels toe hulle Saterdag in die Burger se skolekompetisie vir groot skole vir Hoër Landbouskool Oakdale van Riversdal met 24-13 huis toe gestuur het. Almal aanvaar dat sulke eindstryde harde rugby gaan oplewer, maar dit is verstommend dat daar aan die einde van ’n seisoen nog soveel foute op ’n rugbyveld gemaak word. Albei spanne het geleentheid gehad om saam met ’n sterk wind te speel, maar het dit nie tot hulle maksimum voordeel gebruik nie. Só kon Boishaai, wat in die tweede helfte windaf gespeel het, net drie punte by hul 21-13 halftyd voorsprong byvoeg om uiteindelik met 24-13 te seëvier. Aan die begin van die wedstryd het dit maar vir Boishaai broekskeur gegaan en hulle het eers later in die eerste helfte die oorhand begin kry. Spelers van Boishaai wat hulle hand opgesteek het, is Jean Nel, skrumskakel en Takkies Reitz, slot en kaptein van die Paarliete. Reitz het ook een van Boishaai se drieë gedruk. Die ander drie is deur JP le Roux (vleuel) gedruk en Rhyno Smith (heelagter) het met ’n doel- en strafskop geslaag.
More
News
|