Só ry die boere sit-sit so
2011-09-15
BOKSPRINGENDE bulle uit die Agter-Paarl gaan van die hoofrolspelers wees op die eerste amptelike rodeo in die Wes-Kaap wat Saterdag 1 Oktober op Malmesbury gehou word. Van die land se beste rodeoruiters gaan daar op die jaarlikse landbouskou aan die Wes-Kaapse rodeokampioenskappe deelneem. Hulle kom van sover as Mpumalanga, Gauteng en Noordwes. Dit sluit die huidige nasionale bulrykampioen, Kylon Liversage, en die Noordwes-kampioen, Hector Beukes, in. Uit eie geledere gaan waaghalsige cowboys soos Abrie van Niekerk van Malmesbury en Koos Dippenaar van Lambertsbaai hulle slag op die bulle wys. Dippenaar is die hooforganiseerder van die geleentheid wat onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Professionele Rodeo Cowboys Vereniging aangebied word. Vyftien bulle is reeds vir die geleentheid uitgesoek waarvan ’n aantal Brahmankruisings uit ’n bekende stoet van die Agter-Paarl. Volgens Dippenaar is Brahmankruisbulle van die beste bulle wat internasionaal vir dié doel gebruik word. Rodeokompetisies word reeds sedert dertig jaar gelede in ons land aangebied – veral in provinsies soos Gauteng en Mpumalanga – maar is nog nooit op amptelike grondslag suid van die Oranjerivier gehou nie. “Dis ’n gesonde sportsoort vir veral jongmense wat die adrenalien behoorlik laat kook,” sê Dippenaar. Die byeenkomste word volgens streng reëls aangebied, wat ook in die VSA geld. Sterk klem word veral op die welsyn van die betrokke diere gelê. Die hoofdissiplines van ’n rodeo is gewoonlik “saddle bronc” (met ’n), “bareback riding” (bloots) en “extreme bull riding”. Slegs laasgenoemde item, die hoogtepunt op alle rodeo’s, gaan op Malmesbury aangebied word. Vir meer inligting kontak Koos by 076 605 0320 of vir Hennie by 072 273 6042.
More
News
|