DIE Bosman Family Vineyards “Sur Lie” Chenin Blanc 2011 het die toekenning gekry vir die Beste Fairtrade Witwyn van Suid-Afrika by die onlangse Michaelangelo Internasionale Wyntoekennings.
Dit is die eerste jaar dat die Michaelangelo Internasionale Wyntoekennings ’n toekenning in hierdie kategorie herken.
Bosman Family Vineyards het die toekenning gekry vir die Beste Fairtrade Witwyn van Suid-Afrika en Stellenrust vir die Beste Fairtrade Rooiwyn van Suid-Afrika.
Bosman Family Vineyards is sedert 2009 geakkrediteer as ’n Fairtrade-produsent en het hulself gevestig as een van Suid-Afrika se top Fairtrade-wynprodusente.
Hulle is ook die amptelike vervaardiger van Sainsbury se Taste The Difference Fairtrade-wynreeks in die Verenigde Nasies.
Hierdie wyne wat deur Bosman Family Vineyards namens Sainsbury vervaardig word, het ook al toekennings ontvang by die International Wine and Spirits Competition, asook by die Decanter World Wine Awards.
Die Bosman-familie, wynmaker Corlea Fourie en haar wynspan, asook die gemeenskapsontwikkelaar, Klaas Morkel, is baie opgewonde oor die uitslag.
“Die erkenning van die Michaelangelo Internasionale Wyntoekennings is fantasties en getuig van die goeie klas Fairtrade-wyne wat ons kan produseer,” sę Klaas Morkel.
“Ons sosiale projekte vir die werkers op die plaas is al jare lank aktief aan die gang, maar Fairtrade maak dit vir ons moontlik om ons gemeenskapsbetrokkenheid tot die volgende vlak te neem.
“Een van die vele voorbeelde wat die impak van Fairtrade op ons gemeenskap het, is die suksesverhaal van Shineen October.
“Sy was gekies om die Suid-Afrikaanse karatespan te verteenwoordig tydens die Statebondspele in Australië in Julie 2011.
“As dit nie vir die verkope van die Fairtrade-wyne was nie, sou dit nie vir haar moontlik gewees het om te gaan nie. Sy is ’n groot inspirasie vir al die kinders op die plaas.”
Fairtrade-sertifikasie verseker dat plase voldoen aan die hoogste arbeidstandaarde. Fairtrade oudit plase en handelaars jaarliks om te verseker dat die hele verskaffingsketting voldoen aan al die standaarde.