Blues bly die gunsteling
2011-09-15
DIE stryd om die Paarl-rugbystreekligatitel stuur op ’n spannende einde af. Blues is in die binnebaan aangesien hulle met nog twee wedstryde oor teen onderskeidelik Violets en Paarl United, slegs vier punte moet kry om ’n onaanvegbare voorsprong op te bou. Ná die naweek se gelykopuitslag in die wedstryd tussen Laer Paarl (Blues) en Vineyards (22-elk) en met Violets wat ’n loslootjie gehad het, is Blues in die gunstigste posisie om die titel huis toe te neem. Vineyards daarinteen moet al drie hul oorblywende wedstryde met die maksimum van vyf punte wen en hoop dat Laer Paarl albei sy wedstryde verloor, om die titel te buit. Vineyards moet nog teen onderskeidelik Gardens, Windmeul en Albions speel om hul ligaverpligtinge te voltooi. In hierdie stadium is die titel buite bereik van Violets, wat nog teen Laer Paarl en Simondium moet kragte meet. Laer Paarl is ná 18 wedstryde bo-aan die punteleer met 77 punte, Violets volg met 68 en Vineyards, wat slegs 17 wedstryde voltooi het, staan ná die naweek op 65. Sou Vineyards dus al hul oorblywende wedstryde met bonuspunte wen, sal hulle op 80 punte eindig. Indien Laer Paarl enige een van sy oorblywende twee wedstryde wen, sal hulle as die nuwe ligakampioene van die Paarl-streek gekroon word, omdat hulle dan op 81 punte sal eindig. So gaan die stryd om die ligatitel nog vir baie spanning sorg voordat die kampioen uiteindelik gekroon sal word. Eerskomende Saterdag se wedstryd tussen Laer Paarl en Violets sal met groot belangstelling dopgehou word om te sien of die res van die wedstryde in dié streek slegs van akademiese belang sal wees.
More
News
|