DIE langverwagte “wraakwedstryd” tussen die spanne van Laer Paarl en Vineyards het die naweek voor ’n groot skare afgespeel en wat ’n skitterende en aanskoulike wedstryd was dit nie.
Jong seuns en manne van die Paarl uit verskillende agtergronde en gemeenskappe het mekaar genadeloos binne die reëls van die spel gepak sonder dat daar enige onsmaaklike insident of onbehoorlike toeskouergedrag was.
Daar is steeds gate in die heining van die veld en was drank nog steeds binne die sportgronde gesmokkel, maar die besture van die onderskeie klubs het die verantwoordelikheid uitstekend volgens die regulasies van die WPRFU toegepas.
U moet egter nie verwag dat hierdie wedstryd op die voorblad van koerante of op lamppale of briewekolomme oorgespeel sal word nie, maar dalk êrens ’n foto of eensydige beriggie op die agterblaaie.
Die Paarl Rugbykode is trots op alle rugbykode-klubs wat vir 31 weke per jaar junior en senior rugby vir die gemeenskap van die Paarl bied en daardeur hul beskeie bydraes lewer ter opheffing van die Paarl-gemeenskap.
Dis ’n onbaatsugtige opoffering wat slegs ‘gehighlight’ word wanneer die verkeerde dinge die goeie dade van jare se opoffering oorskry.
Kevin Benjamin, sekretaris Paarl Rugbykodes