Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Met 'n groot glimlag vorentoe

Met 'n groot glimlag vorentoe
 
2011-09-15

Liezl Davids

OP die oog af lyk Danielle Booysen soos enige ander meisie wat opgewonde is oor die verrassings wat op haar wag vir haar tiende verjaarsdag.

Met haar aansteeklike glimlag en huppel in haar stap, is dit moeilik om te glo dat sy reeds vir ses jaar die stryd teen kanker veg.

Op die ouderdom van vier is sy met Hodgkins Lymphomakanker gediagnoseer, maar Danielle laat haar nie maklik onderkry nie en bly positief.

“Die Here het ’n plan met my lewe en ek weet die Here gaan my dra,” sê sy.

Maandag het sy tien jaar oud geword en die Dwarsriviervallei se Hoping is Coping Cansa groep het gesorg dat Danielle haar verjaarsdag in styl vier.

Met haar wit rokkie en kroontjie op haar kop was dié bekkige tiener stomgeslaan toe ’n spierwit limousine spesiaal kom om die verjaarsdagmeisie vir ’n rit te neem.

“Dit is een van my groot drome om in ’n limo te ry,” sê sy saggies terwyl sy skaam glimlag vir al die kameras wat flits.

Op die foto’s van haar ma, Diane Booysen, sien jy Danielle saam met familie en vriende waar sy in die hospitaal is en selfs kort nadat sy vir chemoterapie was, maar die pragtige glimlag bly op haar gesig.

Diane vertel dat dokters gesê het dat die kanker reeds te ver in Danielle se liggaam versprei het en daar niks meer is wat hulle vir haar kan doen nie.

“Maar ons bly steeds positief en glo in God se plan met Danielle. Sy is ’n groot inspirasie vir nie net ons gesin nie, maar ook vir baie ander.”

Volgens haar het dokters reeds op twee vorige geleenthede hoop opgegee, maar het Danielle hulle elke keer verkeerd bewys.

Terwyl Danielle smul aan iets te ete, vertel sy dat sy ’n baie positiewe en vriendelike mens is.

Oor die tye in die hospitaal toe sy vir behandeling moes gaan, sê sy: “Daar was tye wat ek nie so goed gevoel het as ek behandeling gekry het nie, maar daar was tye wat dit okay was.”

Haar droom is om eendag ’n paramedikus te word, maar sy sê ook duidelik dat sy graag in ’n helikopter wil ry soos die karakters in haar gunsteling televisieprogram, Trauma.

Soos enige ander meisie geniet sy dit baie om saam met haar vriende pophuis te speel, te lees en om ma se grimering aan te sit. So gou as wat sy kan, wil Danielle terugkeer na haar skoolbank by Nederburg Primêr en verder aan haar toekomsdrome werk.




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  • Gemengde welslae vir Hugenote in interskole
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za